Madli Grobbelaar
Inwoners van die Huis Edelkroon-tehuis vir bejaardes in Kroonstad se hande bly besig om in hul gemeenskap se behoeftes te voorsien.
Dié groep brei handskoene om die NG kerk Kroonstad-Suid met uitreikprojekte aan behoeftiges te help.
Voorheen het hulle ook vir Solidariteit Helpende Hand gebrei sodat dit geskenk kon word aan mense wat dié organisasie bedien.
Die ywerige vroue wil vanjaar vierkante brei en hekel om aan die Voortrekker-monument in Pretoria te skenk. Dit sal later in komberse omskep word.
“Dit is ‘n riem onder die hart om te weet dat hulle vir hul medemens omgee en terugploeg in die gemeenskap,” sê Brenda Gouws, bestuurder van Huis Edelkroon.
Lede van die gemeenskap wat brei- of hekelpenne wil skenk, kan dit na die tehuis in Meyerstraat se kantoor neem.