Yswit skade tref streek

Nadat uiters vreemde weerpatrone die afgelope tyd in die Vrystaat geheers het, het stormweer verlede week groot skade vir verskeie boere ingehou. Dit is veral Oos-Vrystaatse boere wat graangewasse op die landerye het wat die swaarste deurgeloop het.


Nadat uiters vreemde weerpatrone die afgelope tyd in die Vrystaat geheers het, het stormweer verlede week groot skade vir verskeie boere ingehou. Dit is veral Oos-Vrystaatse boere wat graangewasse op die landerye het wat die swaarste deurgeloop het.

Netwerk24 het vroeër berig landerye tussen Lindley en Bethlehem het Woensdagoggend (30/11) soos ’n sneeulandskap gelyk nadat ’n hewige haelbui daar verwoesting gesaai het.

’n Vlieënier van Bethlehem, Michael Orsmond, het lugfoto’s hiervan geneem op plase waar Orsmond Aviation lugbespuiting doen.

Volgens Orsmond is daar groot skade aan gewasse, en boere het onmiddellik gereël dat hy begin om blaarvoeding te spuit in die hoop dat die plante sal herstel. Hoofsaaklik aartappels, mielies en sojabone is in die haelstorm beskadig.

Op Leendert Haasbroek, ’n melkboer, se plaas buite Bethlehem het 98 mm reën geval wat met hael gepaardgegaan het. Johan Kotzé, Arnold Naudé, André de Villiers en Hein Knobel is ander boere wat weens die haelstorm skade gelei het.

“Die reënval vanaf Oktober tot einde November wissel van 300 mm in die westelike gedeeltes van die Oos-Vrystaat tot 800 mm in die omgewing van Clarens en Fouriesburg.

“Boere kon voor die baie nat toestande redelik baie sojabone plant, maar met die laaste mielie-aanplantings het toestande baie moeilik geraak omdat die grond so nat is. Boere het nou dringend warm sonskyndae nodig,” sê Hendrik Knobel van Vrystaat Landbou (VL).

Boere wat in die volgende drie tot vier weke gespikkelde suikerbone moet plant, hoop ook vir droër toestande.

Volgens die VL lyk die koringoeste belowend, hoewel nat landerye die stroopproses kan bemoeilik.

“Die afgelope twee jaar, weens die baie reën op ryp koring, kon dit slegs as voergraadkoring gestroop word – teen ’n baie lae prys.”

Vanjaar is voëlskade ook ’n probleem, het die VL bevestig.

Netwerk24 het verder berig dat ’n soortgelyke haelstorm buite Vrede verlede week die damwal by die berugte Vrede-melkplaas laat breek het.

Die dam is stroomop van ’n onwettige stortingsterrein geleë, en die water het vullis tot in die dorp en oor die Vrede-gholfbaan gespoel.

You need to be Logged In to leave a comment.