Here, leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom – só het Moses in Psalm 90:12 gebid. Dit behoort ons gebed vandag, môre en elke dag van hierdie jaar te wees.
Ons wêreld is propvol kennis, en kennis is maklik verkrybaar, maar dit is brandarm aan wysheid. Ons het ’n hengse tekort aan wysheid en wyse mense.
Daarom behoort ons elke oggend ons dag te begin deur die Here te vra dat Hy ons sal help om so deur die dag te gaan dat ons aan die einde van die dag wyser sal wees as toe ons dit begin het.
En hoe gebeur dit? Wel, in die boek Spreuke is dit duidelik dat wysheid met die dien van die Here begin. Die profeet Miga sê om die Here te dien, dit is wysheid. Wysheid word dus in ’n intieme verhouding met die Here verkry. Hoe nader ek aan Hom leef en hoe meer ek Hom dien, hoe meer sal my wysheid toeneem.
Die wonderlikste nuus ten opsigte van wysheid is dat dit die een ding is wat God graag uitdeel en vir elkeen wil gee. Niemand kan dus sê: “Ek het dit nie ontvang,” of “Dit is nie vir my beskore nie,” of “Dit is net vir sekere super-Christene bedoel” nie.
Nee, hoor wat se Jakobus in hoofstuk 1:5 van sy brief: As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.
Wat ’n voorreg is dit nie dat ons daagliks kan bid vir wysheid, en dit kan doen in die sekerheid dat God dit graag gee aan elkeen wat dit van Hom kom vra. So, waarvoor wag jy?
- Weideman is leraar aan die NG kerk Kroonheuwel-Noord.