Hoewel die Covid-19-inperkingstyd aanvanklik ‘n “nagmerrie” was vir Jaco Powell, natuurfotograaf en eienaar van die bekende Cape Fox Tours-toermaatskappy in Kimberley, het die lesse van die pandemie hom veerkragtig en wyser gelaat.
Voorheen was sy grootste inkomste uit internasionale toeriste wat hy in Suid-Afrika en elders op die kontinent op foto-toere geneem het. Deesdae is die meeste van sy klante Kimberliete en Suid-Afrikaners wat hy op uitstappies neem om die omgewing se natuurwonders te besigtig. Hy het ook vervoerkontrakte met jagplase.
Powell, wat sy besigheid reeds 23 jaar uit die Diamantstad bedryf, sê hoewel internasionale toeristegetalle steeds nie is wat dit voor die inperking was nie, het hy ander winsgewende nisse in die bedryf ontgin.
Met die streng inperking het alles tot stilstand gekom, ‘n tydperk waarin nie-noodsaaklike reise wêreldwyd verbied is. “Dit was ‘n nagmerrie, want die toeragentskappe was wetlik verplig om deposito’s vir hul klante terug te gee. Hulle het die geld van my geëis, maar natuurreservate en lodges het geweier om my geld terug te gee. Hulle het eerder ‘n krediet toegestaan. Ek was verplig om my ses toerbusse te verkoop om die agentskappe te betaal omdat ek geen slegte skuld wou hê nie. Ek moes teen wil en dank oorleef, en ek het vasgebyt.”
Hy het ‘n klein bussie en ‘n wildritvoertuig behou. Met dié het hy voorheen skoolkinders op dagtoere na De Beers se Dronfield private natuurreservaat gebring.
“Toe die beperkings stelselmatig verslap is, het ek wildbesigtigingstoere vir volwassenes in Dronfield ontwikkel. Volwasse gaste kon ook in hul eie voertuie agter my aanry en sosiale afstand handhaaf wanneer ek vir praatjies stilgehou het. Die plaaslike mense het my geweldig ondersteun en heelwat toere meegemaak. Verlede jaar het ek ook 18 vleisbraai-geleenthede in die veld as jaarafsluitingsgeleenthede vir maatskappye aangebied.
“Andersins kan gaste kies om hul eie kos gaar te maak terwyl ek die vure maak, roosters voorsien en tente en tafels opslaan. Die toer sluit ‘n wildbesigtigingsrit en ‘n aandrit in terwyl ons na die hek en terugry stad toe.”
Hy kon ook weer sy Eco Kids-toere na die reservaat hervat waarin hy skoolkinders aan die natuur voorstel.
“Die Dronfield-toere was ‘n lewensredder, my somme het mooi begin klop.”
Hy sê “dit bly wonderlik om die jongspan se opgewondenheid te beleef wanneer hulle wild gewaar. Dit is ook belangrik dat kinders, wat nie meer so baie buitenshuis speel nie, een met die natuur word. Ek bied ‘n uitdaging aan hulle om walle in een van die tweespoorpaadjies te bou waaroor my voertuig nie kan ry nie. Dit is dan wanneer hulle skoene uittrek en kaalvoet in die sand, wat soos rooi seesand is, te grawe. Daarna eet ons waatlemoen onder ‘n boom, en sommiges kan swem ook. Vir hoërskoolkinders is die toer aangepas en praat ons oor waterbewaring, volhoubare kragopwekking die ekostelsel, hoe belangrik voëls en insekte vir boere is om hul gewasse te bestuif.”
Tydens ‘n toer en vleisbraaigeselligheid op Oukersaand het dit onverwags begin reën. “Die gaste het in die reën baljaar en pragtige foto’s van die weerlig en die reënboog geneem. Dit was ‘n magiese aand waarin vreemdelinge dik stukke gesels het, soos boere by hul plaasheinings.”
Powell kon intussen weer vier toerbusse koop, maar die paaiemente kos hom meer as voorheen omdat hy nie ‘n deposito gehad het nie. Hy het weer bestuurders in diens geneem om namens jagmaatskappye klante tussen die lughawe en jagplase te vervoer.
“Ek het uit die pandemie geleer om uiters versigtig met geld te werk. Wanneer ek na kameralense op die internet kyk, maak ek die bladsy vinnig toe. Ek gooi ook net brandstof in waar ek dit goedkoper kry. Intussen ry ek en my dogter en ons hond op ‘n fiets en sleepwa in die stad om inkopies te doen of take af te handel.”
Hy vergelyk pryse. “Voorheen sou ek sommer net by ‘n slaghuis instap en koop. Nou doen ek eers navorsing oor beskikbare winskopies. Ek wil geen onnodige skuld hê nie.”
Hy bestee ook nie meer geld op homself nie, net op sy dogter (8) se behoeftes en skoolgeld, en op sy besigheid.
“Ek is trots op dit wat ek vermag het.”