Wye druk voorkom nie goeie jaar

Wat ’n voorreg om aan die einde van ’n interessante 2023 te staan. Dit was ’n jaar van vele gebeurtenisse – in ons besigheid spesifiek, maar ook in ons land en in die groter globale omgewing.


Wat ’n voorreg om aan die einde van ’n interessante 2023 te staan. Dit was ’n jaar van vele gebeurtenisse – in ons besigheid spesifiek, maar ook in ons land en in die groter globale omgewing.

Vir die nuwe, saamgestelde groep (GWK, NTK en VKB) was die jaar opwindend en vol hoogtepunte, spesifiek ná die amptelike goedkeuring van die samesmelting met GWK, wat op 31 Mei aangekondig is. Dit het gekom ná uitgebreide gesprekke, onderhandelinge en skakeling met ons besigheid se belangrikste belanghebbendes.

In dié stadium is ons dankbaar vir die vordering wat reeds deur die integrasieproses bereik is. Dit is die gevolg van harde werk en toewyding van die groep se mense. Op ’n formele en informele basis is daar reeds goeie samewerking tussen die verskillende afdelings in onderskeidelik GWK en VKB, met ’n groot aantal effektiwiteite wat reeds ontsluit word.

Ons sien uit na die volgende spronge wat in die nuwe jaar gegee kan word.

Ons almal is maar net te bewus daarvan dat Suid-Afrika onder druk is. Aspekte soos beurtkrag, die gebrekkige toestand van groot dele van ons land se infrastruktuur ten opsigte van paaie en treinspore, en probleme wat tans by hawens ondervind word, plaas enorme druk op die ekonomie. Dit lê werksaamhede aan bande, bemoeilik die vervoer van produkte en veroorsaak dat invoerprodukte in hawens vasgekeer word.

Dit alles het natuurlik ’n invloed op lewenskoste, en dit plaas almal onder druk.

Dit is juis waarom dit vir die maatskappy belangrik was om ’n sterker en meer volhoubare besigheid te vestig wat eksterne skokke en uitdagings makliker kan absorbeer. Nou, as ’n saamgestelde groep, kan ons saam risiko’s beter proaktief identifiseer en bestuur, geleenthede daardeur ontgin en die volhoubaarheid van die bedryf ondersteun.

Baie druk word in die land ervaar, maar gebeure op die sportveld het vir ons Suid-Afrikaners tot ’n groot mate weer nuwe hoop gebring en ons tot ’n eenheid gebind. Natuurlik was die Springbokke se oomblik toe hulle die wêreldbeker omhoog hou ons almal se trotse oomblik. En die Protea-span, wat daarin kon slaag om na die halfeindstryd van die netbal-wêreldbekertoernooi deur te dring, het net weer aan die hele wêreld bewys dat Suid-Afrika op die sportveld ’n gedugte teenstander is.

Nou lê die Kerstyd voor – ’n wonderlike tyd vir baie van ons. Dit is ’n tyd wanneer ’n mens so ’n bietjie kan wegbreek en tyd saam met geliefdes deurbring.

’n Mens moet hierdie tyd waardeer en koester, want die waarheid is dat dit nie vir almal beskore is nie.

Eerstens is daar mense wat deur die feestyd bly werk omdat besighede aan die gang moet bly, want daar is kliënte wat steeds aandag en diens moet ontvang. ’n Opregte woord van dank aan almal wat in hierdie tyd besighede oor die land heen gaan beman.

Daar is ook dié wat weens gebrek aan middele nie aan die feestelikhede kan deelneem nie. My wens is dat mense in hierdie tyd, wat immers ’n tyd van dankbaarheid is, sal uitreik na ander wie se omstandig­hede van ons s’n verskil. Saam kan ons Kersfees ’n ware fees van dank­baarheid maak, nie net vir onsself nie, maar ook vir diegene rondom ons.

As ’n saamgestelde groep bedank ons elke kliënt, ondersteuner en verskaffer met wie ons die voorreg gehad het om vanjaar besigheid te doen. Beste wense vir ’n baie geseënde Kersfees, en mag 2024 voorspoed in oorvloed bring.


Groete, PG Strauss, besturende direkteur van die VKB-groep

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.