Dit is die tyd van die jaar dat feestelikheid tasbaar in die lug is. Kersfees word gevier as ’n tyd van samesyn, familie, vriende, geskenke en kuier.
Dit is egter ook vir baie mense ’n baie moeilike tyd. Mense wat, ongeag die heersende feesgees, eensaam is.
Dit is veral baie moeilik vir diegene wat met geestesgesondheid worstel. Vir hulle is dit ’n diep en donker tyd.
Daarom wil ek graag ’n beroep op almal doen om hierdie jaar, hierdie Kerstyd, te probeer om ’n verskil in iemand se lewe mee te bring.
Gee ’n geskenk aan die minderbevoorregtes, of kook ’n bord lekker kos vir ’n gesin in nood. Besoek die mense wat jy weet veral in die feestyd alleen is of gaan bederf die talle viervoetiges by die DBV of soortgelyke instansies.
Die lewe is klaar so uitdagend en negatief. Wees jy die lig en die rede dat iemand weer kan glimlag.
Kom ons reik uit en maak dit ’n Kersfees van omgee vir dié wat nie so bevoorreg soos die res van ons is nie.
Kersgroete,
Martin Dreyer, BETHLEHEM