’n Skrywer van Bethlehem spog deesdae met verskeie eerbewyse waardeur hy erkenning gekry het vir sy inspirerende digkuns.
Sy pennevrug is onlangs as die algehele wengedig in die afdeling vir geestelike digkuns aangewys toe hy deelgeneem het aan die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans (GHA) se kompetisie.
Coenie Horak (63) het einde Januarie die eerbewys ontvang vir “Iederelks Vader”, ’n eie beryming van die Onse Vader. Die gedig is in ’n bloemlesing, Stemme uit die Suiderland XVII, asook in die bundel My gebed vir ’n boer, opgeneem.
ChangeNetSA in Bethlehem het einde Februarie vir Horak ’n verrassingsete met 40 gaste by Inkwe Lodge gehou ter viering van dié prestasie. Die gaste, wat die geleentheid gekry het om boodskappe vir hom in die twee digbundels te skryf, is op ’n roerbraai-ete getrakteer.
Horak is ’n voormalige sakeman van Welkom wat hom vyf jaar gelede in Bethlehem kom vestig het.
In 2018 het hy sy hand aan die pen gewaag en stelselmatig sy digtersvernuf ontwikkel.
Hy het in 2019 sy tegniese skryfvaardighede by ’n digskool geslyp en in daardie jaar sy eerste prys in ’n kompetisie losgeslaan.
In 2020 het hy R30 000 met een van sy gedigte gewen en in 2021 het hy die top tien in dieselfde kompetisie gehaal.
Horak se uitstekende tegniese skryfvaardighede, in kombinasie met die diep emosionele insig in die menslike psige wat hy toon, word uitgesonder as iets wat sy digkuns besonders maak.
- Horak werk as ’n studieleier by die Bethlehem-tutorsentrum, waar hy sy passie vir opleiding uitleef. Gedig deur Coenie Horak:
Die hele wet en profete hang half
skeef in die dal van bevooregting, want
ouderdom is skerper as die swaardskant
van die magtige dood, genees geen salf…
ons saamwees probeer ek helder onthou
troos my met selfmaakwoorde en berou
(Snelsonnet digvorm)