Woema gekweek

Tuinmaak in Suid-Afrika is nou verweef met seisoene en klimaat. Hoewel mense soms dink dat daar in die winter geen tuin gemaak word nie, is daar noodsaaklike gewoel en werskaf nodig om die heeljaar-kostuin in stand te hou.


Tuinmaak in Suid-Afrika is nou verweef met seisoene en klimaat. Hoewel mense soms dink dat daar in die winter geen tuin gemaak word nie, is daar noodsaaklike gewoel en werskaf nodig om die heeljaar-kostuin in stand te hou.

Die nuutste in gesondheidskringe is natuurlik “superfoods”, wat ek in Afrikaans vertaal as “woema-kos”. ’n Groot groep van hierdie groentes en kruie word juis in die winter gekweek en oorleef wonderlik in wintertuine. Die meeste blaargroentes en kruie soos kool, brokkoli en seldery val in hierdie groep. ’n Interessante stukkie geskiedenis aangaande groente is dat die Engelse woord “vegetable” maar ongeveer 300 jaar oud is; alle groentes was eers “garden herbs” genoem.

Dit is nou al ’n bietjie laat om saad te saai, maar daar is ’n groot verskeidenheid kruie en groenteplante by die kwekerye beskikbaar wat nou geplant kan word en vinnig groei.

Spinasie kan elke dag van die jaar aangeplant word, met legio gebruike. Wanneer die blare jonk gepluk word, kan hulle rou genuttig word en by enige bredie of sop ingemeng word vir daardie ekstra energie en woema.

Kool en al die boeties en sussies van hierdie familie is by uitstek wintergroentes, want in die somer kry kool dikwels luise. Hierdie uitgebreide groep sluit blomkool, brokkoli, brusselspruite, Kaapse spitskool, miniatuur-rooi- en groenkool, sowel as boerenkool (kale), in. Die waarde van hoë vesel, minerale, vitamiene en verskeie anti-oksidante teenoor lae vet, min suikers en beperkte kalorieë maak hierdie groep groentes ’n moet in enige groentetuin.

Nog ’n groep groentes wat waarde gee aan ’n gesonde dieet is die sogenaamde Chinese pak choi-blare (kool) en die rooi- en groenblaar-mosterdsoorte. Daar is baie resepte vir hoe om hierdie groentes voor te berei, maar daar word aangeraai om hulle op ’n jong ouderdom te pluk en op te kerf vir slaaie of gesondheidsdrankies.

Mizuna, ons Japanese mosterdagtige plant, is ook ’n wintergroente wat rou in slaaie, bredies en groentesop gebruik kan word.

Roosmaryn, tiemie, oreganum, vinkel, pietersielie-soorte, grasuie, koljander en wynruit groei heel gelukkig in die winter. Daarom herinner ek graag ons nuwe tuiniers dat daar ’n groot verskeidenheid van groentes en kruie is wat reg deur die jaar en veral in die winter verbou kan word. Groetnis en lekker woema!

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.