Die son se eerste strale blits kristalvonkies uit die witgerypte gras.
Oor riviere en oor panne hang ’n koue mistigheid. Strak vingers van bladwisselende bome strek teen die winterblou lug op.
Voëls sit met opgepofte vere op die hoogste takke om die hitte van die eerste sonstrale te voel. Op die grond is die vierpotige grasvreters – skynbaar onaangeraak deur die koue – besig om te wei met flanke na die son gerig.
Wintervakansie kan die tyd wees om by die huis te bly en nie voor veel later die dag ’n neus by die deur uit te steek nie.
Immers bly ’n mens se tuiste die mees gerieflike plek om te wees. Dit is die plek waar jy sonder gedagte jou hand op iets kan lê; waar jy presies weet waar die warmwatersak en warmste kombers is – en die laaste van die wegsteek-sjokolade. By jou eie plek weet jy teen oggendteetyd is die voorstoep ’n sonsaligheid; met middagkoffie skyn die laatmiddagson op die bankie by die agterdeur.
Vir ander beteken wintervakansie die uitwyk na ander dele van die land – selfs ’n buurland, waar die winter veel meer genadig is.
Ook diegene wat nie vakansie in die winter het nie, beleef in vlugtige oomblikke wintervakansies van weleer. Dit kom met die reuk van lemoene, die runnik van ’n perd, die reuk van ’n kampvuur, die geknetter van ’n koolstoof, die smaak van botter op brood saam met ’n bakkie sop, die dralende rook uit ’n skoorsteen, die geknars van ’n stewel oor ’n witgerypte vlakte, die blou-pienk van die horison wanneer die winternag aanbreek.