Wintermark binnekort hier

Kom geniet ’n oggend van lekker eet, geskenke en bederfies koop op die Franse Wintermark op Saterdag 3 Junie by Villa Avianto in Bloemfontein.


Kom geniet ’n oggend van lekker eet, geskenke en bederfies koop op die Franse Wintermark op Saterdag 3 Junie by Villa Avianto in Bloemfontein.

’n Verskeidenheid uitstallers word op hierdie mark vroeg in die winter verwag. Dit begin om 08:00 en duur tot 15:00.

Van die eetgoed waarna markgangers kan uitsien, is gourmet-soppe en brode, heerlike wyn, gebraaide hoender en varsgebak.

Vir die kinders is daar ’n outydse speelpark met ’n glyplank, swaaie en hobbelperdjies.

Daar is ook ’n spesiale afgebakende sitgedeelte vir ouers, waar kleiner kinders in ’n veilige omgewing kan speel.

’n Springkasteel, sandput, swaaie en plaasdiere is ook hier vir die kinders se vermaak.

Vir die dorstiges is daar mikrobier en jenewer asook die lekkerste barista-koffie.

Uitstallers sluit in ’n verskeidenheid kosstalletjies, fyngebak, kase en wyn.

Daar is ook uitstallers wat onder meer ontwerpersklere vir volwassenes, babaklere, juwele, haarbykomstighede en verskeie handgemaakte hout- en leerprodukte uitstal.

Mooi dekor-artikels vir die huis kan ook op die mark gekoop word.

Daar is ’n groot verskeidenheid handgemaakte sepe, rome en kerse en vele meer.

Die bekende Bloemfonteinse musikant Petro Engelbrecht gaan gaste vermaak met musiek op die trekklavier. Die trekklavier waarop sy speel het aan haar tannie Nellie Slabber behoort en kom uit die 1950s.

Slabber het destyds met dié trekklavier die verhoog met Nico Carstens gedeel.

Toegang kos R30 en R10 vir laerskoolkinders. Kinders jonger as ses jaar kry gratis toegang.

Vir meer inligting oor die mark besoek villa-avianto.co.za of skakel 083-328-4872.

You need to be Logged In to leave a comment.