Bethlehem Rotary het Donderdagaand sy nuwe president ingehuldig. Willie Hattingh sal dié rol vir die volgende jaar vervul.
Op die geleentheid is die Paul Harris-eerbewys, die hoogste erkenning wat aan ’n Rotariër gegee kan word, aan Annette Wessels oorhandig. Sy het dit in ontvangs geneem as die eggenoot van wyle Herman Wessels, ter erkenning van sy onbaatsugtige bydraes tot die Bethlehem Rotary-klub, asook die breër gemeenskap.
Hattingh het voor die oorhandiging eer gebring aan Wessels, ook ’n vorige president, as ’n onbaatsugtige persoon wat altyd meer as sy deel gedoen het met projekte en altyd ander voor homself gestel het. Wessels is geroep vir ’n hoër diens, en sy nalatenskap is ’n voorbeeld vir almal, het Hattingh gesê.
Tydens Hattingh se inhuldigingstoespraak het hy Leon van Rensburg, uittredende president, geluk gewens met ’n goeie jaar en dankie gesê vir sy diensjaar. Hattingh het onderstreep dat welwillendheid en kameraadskap die rugsteun van die Bethlehem Rotary-klub is en dat sy grootste fokus, buiten projekte, die werwing van nuwe lede vir die jaar is. Enigeen wat daarin belangstel om by hierdie diensorganisasie betrokke te raak, kan Hattingh by 083-628-5066 bel.