Wild: Hulp sloer

Dít is dieremishandeling op sy ergste.


Dít is dieremishandeling op sy ergste.

So sê Marina Slabbert, ’n boervrou van Kroonstad, oor die vrektes van diere in ’n wildkamp wat aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) behoort.

Slabbert sê boere in die omgewing kla nou al maande lank omdat dit duidelik is dat daar te veel diere in die kamp is. Die diere word al hoe maerder.

Van die diere het al deur die heining gekruip op soek na weiding. In ’n stadium het daar nege karkasse in die kamp gelê.

Die wildkampe is by die Bossiespruit- militêre basis buite Kroonstad, langs die pad na Lindley.

“Tot 30 swartwildebeeste is al snags op die teerpad gesien,” sê Slabbert.

Die weermag het die afgelope week die heining herstel sodat die diere nie kan uitkom nie.

Daar is hoofsaaklik swartwildebeeste, rooihartbeeste en springbokke in die kamp en boere is dit eens dat daar te veel diere is vir die grootte van die grond.

“Daar is voorgestel dat die diere gevang en verkoop word of geskiet word, maar blykbaar moet daar eers toestemming in Pretoria gekry word,” sê Slabbert.

Met ’n besoek aan die basis was dit duidelik dat daar bykans geen gras is vir die wild nie.

Die swartwildebeeste wat naby die heining gewei het, was baie maer en die reuk van dooie diere het in die lug gehang.

“Ons is al sowat ses weke betrokke by die weermag se plaas buite die dorp,” sê dr. Bryce Marock, veearts vir die Dierebeskermingsvereniging (DBV).

Hy sê die DBV is op 11 Augustus deur ’n lid van die gemeenskap genader omdat daar nie meer gras in die wildkampe is nie.

“Ons het onaangekondig gaan ondersoek instel en op nege dooie swartwildebeeste en ’n swak kalf afgekom. Dit was duidelik die veld is oorbewei en dat die gras wat daar wel is, van ’n swak gehalte is.

“Die DBV het ’n waarskuwing aan die weermag gegee en daarop gewys dat hulle verplig is om genoeg kos, lekblokke en water aan die diere te voorsien.

“Hulle is ook ingelig dat hulle die diere reg moet bestuur sodat hulle gewig kan optel.”

Marock sê die DBV doen van tyd tot tyd onaangekondigde inspeksies by die militêre basis om te verseker dat die diere versorg word.

Hy sê die nege wildebeeste wat gevrek het, het na sy mening rook ingeasem.

“Dit is baie duidelik dat daar oorbeweiding is. Die wildkamp beslaan 150 ha, maar daar is meer as 350 wildsbokke.

“Die kamp se drakrag is nie genoeg vir die aantal diere nie, dit is dus noodsaaklik dat die getalle beheer word.”

Hy sê die DBV wag vir die weermag om ’n langtermynplan voor te lê. Intussen monitor hy die korttermynoplossing.

Netwerk24 kon kol. Luxolo Ngwadla, hoof van die genieskool, Donderdag nie bereik nie.

’n Weermaglid wat nie sy naam bekend wil maak nie omdat hy nie gemagtig is om met die nuusmedia te praat nie, sê offisiere in Kroonstad wag op ’n besluit deur die weermag se nasionale bevelstruktuur oor die diere.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.