‘Wet’ saai kommer

Openbare deelname wat betref die onteieningswetsontwerp het in die laaste week van Mei op verskeie dorpe in die Vrystaat plaasgevind.

Inwoners van Bethlehem ten tyde van die openbare verhoor oor die onteieningswetsontwerp op 24 Mei.Foto: Verskaf

Credit: SYSTEM

Openbare deelname wat betref die onteieningswetsontwerp het in die laaste week van Mei op verskeie dorpe in die Vrystaat plaasgevind.

In Bethlehem het belanghebbendes die geleentheid op 24 Mei bygewoon, waar die nuwe wetgewing nie goed deur die aanwesiges ontvang is nie.

In die wetsontwerp word daar gepoog om onteiening van eiendom deur die staat sonder vergoeding moontlik te maak.

“Indien die wetsontwerp goedgekeur word sal eiendom, soos tans in die wetsontwerp gedefinieer, die staat toelaat om beslag te lê op enige eiendom, wat insluit grond, huise, pensioene, voertuie en intellektuele eiendom; om net ’n paar voorbeelde te noem,” sê Hilton Maasdorp, die DA se koukusleier in die Dihlabeng-munisipaliteit.

Die sameroepers van die openbare deelname van die onteieningswetsontwerp voer aan dat die Wet van 1975 nougeset, vaag en beperk is. Boonop beeld dit nie eiendom of bates, breedvoerig of spesifiek, uit nie.

Daarom is dit toepaslik om die wetsontwerp ná 1994 te hersien.

Hugo van Doornick, verteenwoordiger van die Bethlehem-distrikslandbou, sê hy maak kapsie teen die nuwe wetgewing en hy beskou dit bloot as ’n kwaadwillige politieke skuif deur die regerende party.

“Grondonteiening sonder vergoeding is ongrondwetlik en sal ’n reuse- ekonomiese invloed veral in die landboubedryf hê.”

Organisasies en die publiek wat kapsie teen die nuwe wetgewing wil maak, kan skriftelik teen 23 Junie beswaar aanteken deur ’n e-pos na portiak@fsl.gov.za te stuur.

You need to be Logged In to leave a comment.