In minder as twee weke is drie gewapende rooftogte in Bethlehem aangemeld.
Die nuutste voorval het op Vrydag 18 Maart omstreeks 19:55 by die Railway-drankwinkel plaasgevind.
Kort voor toemaaktyd het ’n man ingeloop om twee biere te koop. Nog twee mans het gevolg, en die personeel by die deur is met vuurwapens na binne gedwing.
Die drie rowers het beveel dat die kasregisters oopgemaak word, en dat al die geld op die perseel aan hulle oorhandig word. Die personeel is gedwing om plat op die vloer te lê terwyl die geld uit die kasregisters verwyder is.
Daarna is al die personeellede, asook Marius en Martin Dreyer, eienaars, met wapens tot in die stoorkamer gedwing.
Hulle kon ’n geskarrel voor in die drankwinkel hoor voordat alles skielik stil was. Daarna het die eienaars dadelik veiligheidsmaatskappye, nooddienste en die polisie ontbied.
“Ons is ongelooflik dankbaar dat almal ongedeerd daarvan afkom,” sê Marius.
“Ons is ook dankbaar vir die nooddienste en polisie se flinke diens. ’n Swanger werknemer is dadelik na die hospitaal gebring vir waarneming, en ons is dankbaar dat sy en haar baba veilig is.”
Die rowers het geld en drank gebuit. Volgens kringtelevisieopnames het hulle in ’n wit Mercedes-Benz gevlug.
“Alles het so vinnig gebeur, en ons sukkel om ná die trauma tot verhaal te kom,” sê Martin.
Die Dreyer-broers en hul personeel sal traumaberading ontvang om die voorval te verwerk.
Volgens Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, is ’n saak van gewapende roof geopen. Geen verdagtes is nog in hegtenis geneem nie.
Enigiemand met inligting oor die voorval word aangemoedig om die polisiekantoor te kontak.
Intussen maan die polisie sakeondernemings om uiters versigtig te wees en hul veiligheidsmaatreëls op te skerp.