Werk virtueel uitgestal

Drie Kroonstadters se werk is vir die jaarlikse Santam-kinderkunskompetisie gekeur.

Die skeppende Kroonstadters wie se werk vir die nasionale Santam-kinderkunskompetisie gekeur is, is van links Caru-Lise Crots (13), Abigail de Carvalho (11) en Luné de Villiers (12).

Credit: SYSTEM

Drie Kroonstadters se werk is vir die jaarlikse Santam-kinderkunskompetisie gekeur.

Caru-Lise Crots, Luné de Villiers en Abigail de Carvalho is leerlinge van Mari Leonard, ’n kunsonderwyser van die dorp.

Al drie se werke is vir die 2023-uitstalling gekeur.

“Een van Luné se kunswerke is ook in 2019 gekeur, en een van Abigail in 2018. Dit is egter die eerste kunswerk van Caru-Lise wat gekeur is,” sê Leonard.

“Ek is vreeslik trots op dié drie leerlinge van my.”

Bridget Goosen, organiseerder van die kompetisie, sê daar was ’n “ontploffing van talent” in vanjaar se kompetisie.

“Die kinders se kuns was lewendig en het verseker die wêreld na ’n beter plek gebring.

“Die kuns was van hoë gehalte, en ’n mens kon die ywer waarmee hulle hul werk gedoen het, waarneem.”

Uit die 3 122 werke wat ingeskryf is, is slegs 277 gekeur.

Die gekeurde kunswerke is vroeër jare in reisende uitstallings opgeneem wat landswyd vertoon is, maar sedertdien is dié uitstalling met ’n virtuele weergawe vervang.

“Ek en Abigail se familie het ’n jarelange geskiedenis, en kuns vloei vrylik deur die De Carvalho-familie se are,” sê Leonard.

Abigail se broer, Eddie, was een van haar leerlinge, asook hul pa, Fernando, en sy broer Raymond.

Een van Eddie se kunswerke is in 2010 vir die Santam-kinderkunskompetisie gekeur.

Die nuutste virtuele uitstalling sal in 2023 besigtig kan word.

Gaan na santam.co.za en tik “child art” in die soekblokkie regs boaan die blad.

You need to be Logged In to leave a comment.