Werk sag, asof met jouself

“As daar een goue reël is waarvolgens julle moet lewe, is dit die volgende: Vra julle elke dag af hoe julle wil hê ander mense teenoor julle moet optree. Gaan tree dan eerste so teenoor hulle op. As julle so leef, doen julle alles wat die Bybel van j


“As daar een goue reël is waarvolgens julle moet lewe, is dit die volgende: Vra julle elke dag af hoe julle wil hê ander mense teenoor julle moet optree. Gaan tree dan eerste so teenoor hulle op. As julle so leef, doen julle alles wat die Bybel van julle vra.”
Matteus 7:12

Tydens een van die wêreldoorloë het Duitse troepe ’n bepaalde dorpie beset. Op ’n keer wou hulle by die burgemeester van die dorpie weet waar die verraaier is wat hulle wegsteek.

Die dorpie het inderdaad ’n vlugteling weggesteek, maar almal van hierdie dorp het geweet dat die man onskuldig was.

Inwoners van die dorp was egter bang vir die Duitsers.

Dit het dus neergekom op die welsyn van die hele dorp teenoor die lewe van een onskuldige man.

Dae lank het die dorpsraad met hierdie geweldige probleem geworstel. Hulle het hierdie en daardie oorwegings teenoor mekaar opgeweeg en kon net nie tot ’n besluit kom nie.

Nadat die priester geraadpleeg is, het hulle besluit dat dit voordeliger is dat een persoon sterf en nie die hele gemeenskap nie. Hulle het die vlugteling aan die Duitsers oorgelewer.

Terwyl hierdie onskuldige man doodgemartel is, kon sy gille in elke huis in die dorp gehoor word.

Baie jare later het ’n wyse man hierdie dorp besoek en toe aan die burgemeester van daardie tyd gevra: “Hoe kon julle daardie onskuldige man uitlewer om gemartel en vermoor te word? Julle het geweet van sy onskuId. Julle het geweet waarvoor hy geveg het.”

Die burgemeester was beslis in sy antwoord.

“Ons het alles moontlik gedoen. Ons het die priester geraadpleeg, wat op sy beurt die Bybel geraadpleeg het en toe aan ons die raad gegee het.”

“Dis waar julle die fout gemaak het,” het die wyse man gesê.

“Julle het alles moontlik geraadpleeg, sonder om in die man se oë te kyk – sonder om te onthou wat julle graag aan julle gedoen sou wou hê, as julle elkeen die vlugteling was.”

  • De Kok is leraar aan die NG kerk Bethlehem-Noord.

You need to be Logged In to leave a comment.