Werk aan tonnels van Lesotho-Hoogland-waterprojek kritiek

Groot kommer heers in die Oos-Vrystaat en omgewing oor die beplande instandhoudingswerk aan die oordrag- en afleweringstonnels van die Lesotho-Hoogland-waterprojek.


Groot kommer heers in die Oos-Vrystaat en omgewing oor die beplande instandhoudingswerk aan die oordrag- en afleweringstonnels van die Lesotho-Hoogland-waterprojek wat ses maande lank sal duur. Die instandhoudingswerk word vir van 1 Oktober tot 31 Maart 2025 beplan.

Die tonnelstelsel bestaan uit ’n oordragtonnel wat die Katsedam met die Muela-kragstasie en Mueladam verbind, en ’n afleweringstonnel wat die Mueladam met die Asrivier-uitloop-aanleg tussen Clarens en Bethlehem verbind.

Instandhouding van dié waterprojek moet elke vyf tot tien jaar plaasvind. Met die mees onlangse inspeksie, in 2019, is bevind dat die staalvoerings van die tonnels dringend instandhouding benodig.

Inwoners van die Oos-Vrystaat en omgewing is baie bekommerd oor die beplande instandhoudingswerk aan die Lesotho-Hoogland-waterprojek. Foto: Verskaf

Die beplande instandhoudings­werk sal onder die toesig van die Lesotho Hoogland-waterkommissie, ’n gesamentlike beheerliggaam van Suid-Afrika en die regering van Lesotho, asook deur die Lesotho-Hoogland-ontwikkelingsagentskap (LHDA) en die Trans-Caledon-tonnelowerheid (TCTA) onderneem word.

Dié belanghebbendes sal verantwoordelikheid neem vir die nodige en dringende herstelwerk wat in 2019 reeds geïdentifiseer is.

Die departement van water en sanitasie (DWS) het in ’n verklaring gesê dat die proses tyd sal neem om goeie infrastruktuur vir die volgende 20 tot 30 jaar te verseker.

Hulle voer aan dat die instandhouding van kritieke belang is om die volhoubaarheid van die watertoevoer te verseker. Aangesien ‘n watertonnel wat meegee rampspoedige gevolge vir waterverskaffers en verbruikers kan meebring.

Volgens DA-raadslid Irene Rugheimer van die Dihlabeng-munisipaliteit het die DWS ’n vergadering op 19 Maart met bekommerde inwoners van Clarens gehou om die Lesotho-Hoogland-watersluiting wat vir Oktober geskeduleer is, te bespreek.

Inwoners het in die vergadering genoem dat watertekorte of selfs geen water hul grootste bekommernis is.

Amptenare van die DWS het in die vergadering inwoners probeer gerusstel en aangevoer dat die departement voorsiening sal maak deur verskeie boorgate te sink om sodoende watervoorsiening te verseker.

“Die departement kon geen 100% uitvoerbare aksieplan voorlê nie en was ook nie in staat om al die vrae van kardinale belang ten volle te beantwoord nie”, sê Rugheimer.

Die departement het hom egter tot ’n opvolgvergadering met alle belanghebbendes verbind om die uiteindelike planne en maatreëls te kommunikeer.

Rugheimer sê met lae damvlakke weens ’n gebrek aan goeie reënval dié seisoen is inwoners onrustig.

Amptenare het wel beklemtoon dat die opvul van die Townsenddam ’n prioriteit is, maar kon nie ’n spesifieke tydlyn verskaf nie.

Die herstelwerk sal die watervoorsiening aan gebruikers langs die Liebenbergsvleirivier en sytakke beïnvloed en sal dus dorpe soos Bethlehem, Reitz en Tweeling, asook gelisensieerde besproeiers in die omgewing, raak.

Ten einde water tydens die sluiting vir hierdie plaaslike gebruikers te verseker, sal die Saulspoortdam opgevul word.

DWS se navorsing het daarop aangedui dat as die Saulspoortdam vol is, dit aan die behoeftes van Bethlehem, Reitz en Tweeling vir ’n tydperk van tot nege maande van water kan voorsien.

Die DWS het bevestig dat samesprekings rakende die herstelwerk reeds in 2021 met geaffekteerde munisipaliteite bespreek is om aksieplanne op te trek en te bespreek. Die departement het ook kommunikasieplanne ontwikkel wat elkeen van die drie geaffekteerde munisipaliteite ook in plek moet hê. Dit sal verseker dat almal wat deur die sluiting geraak word, ingelig is om sodoende die minimale ontwrigting aan gebruiker te verseker.

Die departement wil graag alle watergebruikers wat deur die beplande instandhouding geraak word, versoek om water spaarsamig te gebruik gedurende hierdie tydperk, as ’n manier om enige onvoorsiene risiko’s te bestuur. ’n Waterbeperkingskennisgewing word in die verband opgestel.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.