’n Studente-onderwyser aan die Laerskool Jordania in Bethlehem is gekies om Suid-Afrika volgende jaar op die internasionale kampioenskapsbyeenkoms vir die uitvoerende kunste in New York en New Jersey in Amerika te verteenwoordig.
San-Mari Oelofse (20) het in die September-skoolvakansie aan die nasionale Talent Africa-kompetisie in Alberton deelgeneem. Sy het sewe solo-sangnommers gelewer en vier goue en drie silwermedaljes verower.
Die deelnemers aan die kompetisie is deur ’n paneel van ses beoordelaars beoordeel, waarvan twee van Amerika was.
Oelofse sal volgende jaar in die Junie-Julie-skoolvakansie as lid van die Suid-Afrikaanse span in Amerika meeding. Sy is ook vir die nasionale span gekies wat in September 2023 in Spanje in die Mediterranean Legends-kompetisie sal meeding.
Spanlede neem op eie koste, asook met die hulp van borge wat hulle self werf, deel.
“Ek is baie opgewonde om die land op internasionale vlak te verteenwoordig. Dit is ’n groot eer en slegs genade van bo, waarvoor ek baie dankbaar is,” sê Oelofse.
Enigeen wat Oelofse in haar droom wil ondersteun, kan haar of haar ma, Marizané, by 082-761-0864 of 082-442-1441 bel.