Wêreldverhoog wink

’n Skoonheid van Bethlehem is as Miss Teen International Suid-Afrika gekroon.


’n Skoonheid van Bethlehem is as Miss Teen International Suid-Afrika gekroon.

Die 15-jarige Yulienke Jacobs, ’n gr. 10-leerling aan die Hoërskool Witteberg, het op 2 Julie aan World South Africa Pageants se Miss Teen World-skoonheidskompetisie deelgeneem.

Sy het teen 84 meisies meegeding en ’n tweede plek behaal, wat aan haar die titel besorg het.

“Dit was ’n baie strawwe kompetisie, en ek was uit die veld geslaan toe ek as een van die top vyf aangekondig is. Dit was ’n ongelooflike ervaring,” sê Yulienke.

Op die jong ouderdom van ses het Yulienke na ’n skoonheidskompetisie op televisie gekyk en dadelik vir haar ma gesê sy wil graag aan so ’n kompetisie deelneem.

“Dit was die mooi rokke en krone op die meisies se koppe wat my aandag getrek het. Meisies hou mos van mooi dinge en blinkgoed.”

Sy sê egter sy het gou besef dat die kompetisies nie net oor mooi rokke en blinkgoed gaan nie, maar eerder daaroor om ’n positiewe bydrae in mense se lewe te maak.

Dat sy aan liefdadigheids­organisasies kan teruggee of hulle ondersteun, is vir haar die belangrikste in dié kompetisies. Daarom is sy baie betrokke by die plaaslike DBV, en mense met outisme lê haar ook na aan die hart. Sy is veral by bewusmakingsprojekte rakende outisme betrokke.

Yulienke speel netbal vir haar skool en lees graag vir ontspanning.

Sedert sy by skoonheidskompetisies betrokke geraak het, het sy al aan verskeie deelgeneem. In 2019 het sy haar eerste groot kompetisie gewen, waarop sy as Miss International Princess gekroon is. Hiermee is die deur vir haar oopgemaak om internasionaal mee te ding. Sy kon dié deelname egter weens die Covid-19-pandemie nog nie verwesenlik nie, maar sy sal wel in April 2023 die geleentheid kry.

As Miss Teen International, haar huidige titel, sal sy Suid-Afrika in Oktober in Ecuador, Suid-Amerika, op die Miss Teen International-skoonheidskompetisie verteenwoordig.

You need to be Logged In to leave a comment.