’n Sakevrou van Bethlehem is as ’n semifinalis in die Mev. Heelal Suid-Afrika-kompetisie aangewys en sal om die kroon vir 2024 meeding.
Die 38-jarige Adele Fourie is een van 22 semifinaliste in dié kompetisie. Die name is op 5 Augustus aangekondig en deelnemers word volgens ’n puntestelsel beoordeel. Die finaliste sal op 28 Oktober aangekondig word.
“Dit is absoluut vir my ’n groot voorreg en eer om ’n semifinalis in die kompetisie te wees. Ek is opgewonde, maar besef dat groot verantwoordelikheid hiermee gepaard gaan. Ek sal reuse-skoene moet volstaan,” sê Fourie.
Fourie het haar skoolloopbaan aan die Laerskool Jordania begin, en aan die Hoërskool Witteberg matrikuleer. Daarna het sy haar in gasvryheidsbestuur aan die Sentrale Universiteit van Tegnologie (SUT) in Bloemfontein bekwaam.
Sy en haar man, Jacques, bedryf hul eie sakeonderneming in Bethlehem. In 2020 het Fourie as ’n eiendomsagent gekwalifiseer. Sy hanteer die verkope van residensiële eiendomme en plase. Die egpaar het twee seuns: Marckus (9) en Zaine (7).
Danksy die volgehoue ondersteuning van familie, vriende en sakeondernemings in Bethlehem is sy gereed om ’n verskil te maak en om haar bes te doen.
Elke semifinalis word volgens haar geldinsamelingsprojekte, borge, kaartjieverkope, mediablootsteling, voorkoms en na aanleiding van onderhoude beoordeel.
’n Werksessie in Sandton, Johannesburg, word aanstaande week aan die semifinaliste gebied.
Op ’n teegeselligheid Sondag (27/08), waar hulle ook as gasvroue sal optree, sal hulle amptelik bekendgestel word.
Die stemproses in die kompetisie is uitsonderlik, want vir elke R5 wat Fourie insamel, verdien sy een stem. Sy moedig mense aan om haar hiermee te ondersteun.
Die Statebond-skoonheidskompetisie se bankbesonderhede, waardeur geld vir stemme betaal kan word, is op Fourie se Facebook-blad te vinde.
Die wenner van Suid-Afrika sal volgende jaar aan die internasionale Mev. Heelal-kompetisie deelneem.