Wens vir verligting skep afwagting

Dit is laataand en ek hoor die weer begin opsteek.


Dit is laataand en ek hoor die weer begin opsteek.

Die ligte donderweer dans van die een kant na die ander en ek wonder of ons deur die nag genoegsame reën sal kry.

Dit is immers al November en ons het nog nie behoorlik reën gehad nie.

Selfs die gemoed hunker na die reuk van reën wanneer dit ’n stoomwarm aarde ontmoet. Daardie druppels wat ná ’n snikhete dag verligting bring.

Tot dusver was daar net vreemde donderstorms wat met erge wind gepaard gaan.

Die weerpatrone voel effe omgekrap, en ons beleef van uitermatige hittegolwe tot bibberende koue in die verloop van minder as ’n dag.

Ons was almal stomgeslaan oor die skielike sneeuneerslae verlede week in die Oos-Vrystaat, toe Bethlehem een van die koudste dae van die jaar beleef het.

Weerkundiges sê dat dit die El Niño-stelsel is wat die snaakse weerpatrone voorbring.

Saaiboere moet nou kopkrap om te bepaal wat die wisselvallige weerpatrone vir gewasse en vrugtebome gaan beteken.

Soos die aarde, hunker ons ook na reën – want sonder goeie reën is daar nie ’n nuwe, vars begin nie. Alles bly dan net stowwerig en vaal om ons.

Dit laat my dink aan die gedig Die dans van die reën, deur Eugène Marais, waarin mens en dier in uiterste droogte kinderlik opgewonde op die reën wag en jubel oor die reën wat met ’n gedans naderkom.

Dit is egter heelwat later dat die druppels op die dak begin plons en ek ’n mate van dankbaarheid ervaar, veral vir die heerlike koel briesie wat inwaai.

Vanaand sal ons lekker kan slaap, dink ek.

Maar te midde van my opgewondenheid is die bui reën vinniger oor as wat die begin het en moet ek maar tevrede wees met net ’n bietjie koel lug.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.