Ryno “DJ Crazy” Steyn gaan binnekort sy debuut-enkelsnit uitreik – ’n verwerking met kenmerkende klanke en energieke ritmes wat beloof om almal op die dansvloer te kry.
Die bekendstelling van “One Crazy Night” sal op Saterdag 22 Julie plaasvind.
“Die enkelsnit se lirieke handel oor musiek wat vir mense ’n uitlaatklep is, sodat hulle kan ontspan en van die uitdagende werklikhede kan vergeet. Ek hoop ek het dié boodskap vasgevang,” sê die 37-jarige Steyn, van Reitz in die Oos-Vrystaat.
Steyn is al die afgelope 21 jaar in die musiekbedryf, en om ’n enkelsnit bekend te stel was al die jare ’n droom – wat uiteindelik verwesenlik is.
Weens ’n baie druk program was dit nie moontlik om die enkelsnit vroeër op te neem nie. Steyn werk voldag as bestuurder van digitale en sosiale media by VKB, en oor naweke maak hy musiek op troues en partytjies of in klubs.
“One Crazy Night” word deur sy eie maatskappy, Magic Moments, bekendgestel. Hy het die verskillende instrumentale klanke opgeneem, verwerk en die melodie gerangskik. Hy het ook die lirieke geskryf en met ’n sanger van Engeland gewerk om die finale produk bekend te stel.
“Dit was nogal ’n lang en uitgerekte proses, aangesien ons nooit regtig bymekaar in ’n ateljee kon sit en idees uitruil nie. Dit het baie lang ure, harde werk en baie Zoom-vergaderings geneem om te kom waar ons nou is.”
Aanhangers kan na die enkelsnit luister op musiekstromingsplatforms soos Spotify, Apple Music, YouTube Music, Deezer en Tidal.
Steyn gaan ook ’n musiekvideo vir “One Crazy Night” uitreik.
Intussen is Steyn se dagboek volbespreek vir 2023, en hy is baie dankbaar vir al die geleenthede wat oor sy pad kom.
Hy is besig met ’n tweede enkelsnit, maar wil nie nou veel verklap nie.
- DJ Crazy kan gevolg word op Facebook, Instagram en TikTok.