Vreugdesvure brand hoog in die Vrystaat nadat leerlinge van dié provinsie met uitstekende uitslae in die 2021-matriekeindeksamen weer stof in matrikulante uit ander provinsies se oë geskop het.
Die Vrystaat spog met ’n 85,7%-slaagsyfer teenoor verlede jaar se 85,1%. Landswyd het die slaagsyfer van 76,4% na 76,6% verbeter.
Dié aankondiging is deur minister Angie Motshekga van die departement van basiese onderwys gemaak.
“Dit is ’n duidelike aanduiding dat leerlinge en onderwysers vasbeslote was om ongeag ’n pandemie hul beste te lewer,” het sy gesê.
Leerlinge veral in gr. 11 en gr. 12 se toekoms word in dié kritieke skooljare bepaal, en omdat die klasse van die afgelope twee jaar aan buitegewone en baie stresvolle omstandighede blootgestel was, is die prestasies juis meer uitsonderlik.
Die goeie uitslae is ’n bewys dat skole ondanks die pandemie goed onder druk gefunksioneer het.
Onderwysers, leerlinge en ouers kan hulself ’n klop op die skouer gee vir die harde werk en deursettingsvermoë wat ten toon gestel is.
Mag elke leerling wat in volharding die rowwe pad moes stap, uitsien na ’n blink toekoms wat wink.
Die mense van dié streek glo en vertrou dat die Vrystaat se matriekleerlinge van 2022 ook almal se verwagtinge sal oortref.