Wegbrekers juig oor ANC se teleurstelling

Die MaP-16-wegbrekers van die ANC in die Maluti-a-Phofung-munisipaliteit (Harrismith, Qwaqwa en Kestell) het die ANC so in die wiele gery dat dié party in die munisipale verkiesing slegs 39,36% van die stemme op hom verenig kon kry.


Die MaP-16-wegbrekers van die ANC in die Maluti-a-Phofung-munisipaliteit (Harrismith, Qwaqwa en Kestell) het die ANC so in die wiele gery dat dié party in die munisipale verkiesing slegs 39,36% van die stemme op hom verenig kon kry.

Azael Nhlapo, sentrale koördineerder en sameroeper van die MaP-16, het Woensdag (03/11) gesê dit was hul doelwit om te keer dat die ANC ’n volstrekte meerderheid van 50% plus 1 in Maluti-a-Pho­fung kry. Hulle is verheug dat hulle dit reggekry het.

Die MaP-16 het 28,55% van die stemme op hom verenig, die EFF 9,84% en die DA 7,47%.

“As die ANC ’n koalisie-vennoot nodig het, sal die MaP-16 beslis nie bereid wees om saam met hom in die bed te klim nie,” sê Nhlapo.

“Ons het juis vir die ANC gesê hy steel en daarom breek ons weg. Nou moet ons sy gemors agter hom skoonmaak. Hoewel die MaP-16 nie die meerderheidstem in die munisipaliteit gekry het nie, het ons baie goed gevaar.”

Die MaP-16 het in 2018 van die ANC weggebreek.

Werner Horn, DA-voorsitter en veldtogbestuurder in die Vrystaat, sê spottenderwys “as ’n mens kyk na die steun wat kiesers in daardie munisipaliteit aan ons gegee het, is dit vir ons duidelik dat hulle ons nie nodig gaan kry nie”.

Leona Kleynhans, DA-LPW in wie se kiesafdeling Maluti-a-Phofung val, sê Maluti-a-Phofung is in 2018 onder administrasie geplaas toe Vusi Tshabalala, noue vriend van Ace Magashule, die burgemeester was.

Magashule, gewese premier van die Vrystaat, is geskors as die ANC se sekretaris-generaal.

Tshabalala is destyds deur die ANC se provinsiale uitvoerende komitee gedwing om as burgemeester te bedank.

In Mei 2018 is Gilbert Mokotso in ’n geslote stemming tot nuwe burgemeester verkies nadat 15 ANC-raadslede, wat later as die MaP-16 weggebreek het, téén party-opdragte saam met die DA vir Mokotso gestem het.

Die ANC het uiteindelik die 15 ANC-raadslede ná ’n tugverhoor afgedank, asook vir Mokotso, wat ’n proporsioneel verkose ANC-raadslid was.

Hierna het die raad in duie gestort.

Die raad het onder nuwe administrasie gekom terwyl die geskorste ANC-lede verskeie hofsake aanhangig gemaak het om hul afdanking uit die raad ongedaan te maak.

Hulle het ook by die ANC appèl aangeteken, en selfs by pres. Cyril Ramaphosa beswaar aangeteken en gevra om in hul poste in die raad herstel te word.

In Desember 2019 het hulle egter besluit om die burgerlike organisasie MaP-16 te stig, wat later as politieke party geregistreer is.

In die tussenverkiesings wat gehou is om nuwe raadslede te verkies nadat hulle uitgeskop is, het hulle as onafhanklike kandidate deelgeneem. Uit die 15 het tien hul setel herower.

Omdat hy ’n proporsioneel verkose raadslid was, kon Mokotso nie aan die tussenverkiesings deelneem nie.

Ramaphosa het intussen gelas dat die spesiale ondersoekeenheid Maluti-a-Phofung se geldsake ondersoek.

Tshabalala, oor wie se “skrikbewind” as burgemeester voorheen berig is, het ná die algemene verkiesing in 2019 ’n pos in die provinsiale wetgewer as hoofsweep en voorsitter van die komitee oor finansies en openbare rekeninge gekry.

Sedertdien is hy egter deur die tussentydse provinsiale uitvoerende komitee van die ANC in die Vrystaat geskors.

  • Die African Content Movement van Hlaudi Motsoeneng van SAUK-faam het twee setels gekry, die Dikwankwetla-party drie setels en die VF Plus een setel.

You need to be Logged In to leave a comment.