‘Wees net positief’

Haar gasvryheid en warm glimlag verwelkom elke klant,e en haar passie daarvoor om klante gelukkig en tevrede te hou, is amper aansteeklik.

Sandra Pieters Foto: Verskaf

Credit: SYSTEM

Haar gasvryheid en warm glimlag verwelkom elke klant,e en haar passie daarvoor om klante gelukkig en tevrede te hou, is amper aansteeklik.

Die 53-jarige Sandra Pieters is sinoniem met die Tennessee Spur in Kroonstad, en die afgelope vyf jaar lank staan dié ystervrou al aan die stuur van die restaurant.

Dié raakvatter is al 16 jaar lank by die restaurantgroep werksaam – sy het as ’n kassiere begin en die loopbaanleer tot by die rol van bestuurder geklim.

Haar werk is vir haar baie bevredigend en sy geniet veral die interaksie met klante, positiewe terugvoering en om klante tevrede te sien uitstap.

“Ek kan soms streng wees, maar ek sal nooit onredelik wees nie.

“Dit is belangrik in ons bedryf om seker te maak dat elke werknemer weet wat van hom of haar verwag word. Ek glo dit is my en my span se wenresep. Ons werk eenvoudig soos ’n goed geoliede masjien.”

Sandra sê dat sy weens haar druk werksprogram min tyd vir ontspanning kry, maar wanneer die geleentheid hom voordoen, geniet sy dit om saam met haar ses kleinkinders tyd deur te bring. Dit is immers haar hart se punt.

Sandra is in Vanderbijlpark gebore en het in Vredefort grootgeword, en dit is ook daar waar sy haar skoolloopbaan voltooi het.

Sy is ’n weduwee; haar man, Deon, is in 2006 oorlede.

Die egpaar het drie seuns: Willie (35), Martin (30) en Dian (25). Sandra het dié drie manne ná Deon se dood as enkelma grootgemaak. Martin woon in Clocolan en Willie en Dian in Kroonstad.

Sandra se boodskap aan vroue vir dié Vrouemaand is dat hulle alle uitdagings met ’n positiewe gesindheid moet aanpak.

Sy het in haar lewe met ’n paar groot uitdagings te doen gekry, maar sy glo daaraan om altyd iets positiefs in omstandighede buite ’n mens se beheer te soek. Dit lig ’n swaar gemoed, en ’n mens vind altyd iets om voor dankbaar te wees.

You need to be Logged In to leave a comment.