Die honger en moeg lê in diep lyne op die vrou met die kind op haar heup se gesig. Dankbaar glimlag sy vir die vrywillige werker toe sy die kospakkie vat.
Hierdie is iets waarmee die Bethlehem Kinder- en Gesinsorg daagliks te doen kry. Die nood is groot en dié organisasie poog om te help waar hulle kan.
Daarom het dié organisasie dringend finansiële ondersteuning nodig om hulle uiters belangrike werk en dienste wat hulle aan die gemeenskap en omgewing lewer, volhoubaar te maak.
Sedert die ontstaan van die organisasie in 1926, lewer hulle vir jare dienste aan die Bethlehem-gemeenskap.
“Die veld van dienslewering van ons organisasie het met verloop van tyd verander, maar het deurentyd ‘n groot impak op die gemeenskap gehad. Ons is ‘n kinderbeskermingsorganisasie wat met kinders en families werk en die dienste is broodnodig in alle gemeenskappe,” sê Etrése de Klerk die bestuurder van Bethlehem Kinder-en Gesinsorg.
Hoofsaaklik is hulle werk om kinders in pleegsorg, ’n plek van veiligheid en/of jeugsorgsentrums te plaas. Hulle werk ook met kinders wat gedragsprobleme openbaar en enige ander behoefte wat binne die familie konteks mag ontstaan.
“Ontelbare kinders is reeds deur die organisasie gehelp en ons tree in die beste belang van elke kind binne sy of haar omstandighede op. Waar ons as organisasie voel dat ons hulp van buite moet kry word kliënte dan na ander rolspelers verwys. Ons is baie dankbaar vir elke rolspeler aangesien ‘n spanpoging belangrik is, waar ons nie die gevalle alleen kan hanteer nie.”
‘n Bewusmakingsprogram teen dwelmmisbruik is nog een van die dienste wat hulle aanbied. Hulle lig die gemeenskappe van Bethlehem, Clarens, Paul Roux, Fouriesburg en Rosendal in oor die uitdagings van misbruik. Met die programme wil hulle mense inlig oor die gevare van verslawing asook dat daar beskikbare hulpmiddels vir verslawings is. Hulle spits hul toe veral op die jeug en jong volwassenes.
Hulle verleen ook hulp aan kliënte wat aan gesinsgeweld blootgestel is.
“Die diens is vir alle vroue, mans en kinders beskikbaar wat onder gesinsgeweld gebuk gaan. Ons bied ook vir die slagoffers ‘n plek van veilige bewaring, waar hulle geakkommodeer kan word wanneer hulle in gevaar verkeer.”
As Christelike organisasie is dit vir hulle uiters belangrik om hul dienste vanuit die verwysingsraamwerk te lewer aan enige persoon ongeag hul ras, geslag of geloof.
Hoewel die organisasie geldelike steun van die departement van maatskaplike ontwikkeling ontvang, is dit nie genoeg om al hul uitgawes te dek nie. Vir die voortbestaan en om hul noodsaaklike dienste aan te bied benodig hulle ekstra geldelike steun. Hiermee wil hulle graag ‘n beroep doen op die gemeenskap of enige ander weldoener om hulle te kontak indien hulle ‘n bydrae kan maak.
Vir meer inligting hieroor of om betrokke te raak, stuur ‘n e-pos aan ksorgbhm@bcfw.org.za of skakel die kantoor by 058-303-0222.