Rubriek: Wees gereed vir sy koms

Openbaring 22:20: Hy wat dit alles getuig, sê: “Ja, Ek kom gou!” Amen! Kom, Here Jesus!


Openbaring 22:20: Hy wat dit alles getuig, sê: “Ja, Ek kom gou!” Amen! Kom, Here Jesus!

Daar word vertel dat, tydens sy soektog na die Suidpool, Lord Shackleton na die vasteland moes terugkeer om voorrade aan te vul. Hy kon nie sy hele geselskap saamneem nie en het sommige van sy mense agtergelaat op die onherberg­same Elephant-eiland – eintlik net ’n troostelose vlakte van ys en sneeu.

Die dag toe Shackleton vanaf die eiland vertrek het, het hy elkeen wat agterbly persoonlik belowe dat hy sou terugkeer om hulle te kom haal.

Ná baie ontberings het Shackleton Suid-Georgia bereik. Hier het hy ’n nuwe skip en voorrade bekom.

So spoedig moontlik het Shackleton die terugtog aangepak en baie hard probeer om Elephant-eiland te bereik, maar sy pogings het keer op keer misluk weens die gevare van drywende pakys.

Heel onverwags was daar op ’n dag ’n ongewone gaping in die pakys. Shackleton het vinnig ingegaan, sy mense opgepik en na veiligheid teruggekeer.

Ná al die opwinding wou Shackleton weet: “Hoe het dit gekom dat julle almal met alles ingepak en gereed op die kaai vir my gestaan en wag het?”

“Meneer, jy het belowe om terug te kom,” het die mense van Elephant-eiland geantwoord.

“Ons het nooit aan jou woord getwyfel en moed opgegee nie. As dit die dag enigsins moontlik gelyk het, het ons ingepak en op die kaai gaan staan en wag. Dan het ons mekaar bemoedig met die woorde: ‘Miskien kom Shackleton vandag.’ ”

Is jy gereed vir Jesus Christus se wederkoms?

Onthou: “Jesus Christus se wederkoms is so naby soos ’n mens se sterwensuur, en wie kan dit bepaal?” – ds. Johan Smit

  • De Kock is leraar aan die NG kerk Bethlehem-Noord.

You need to be Logged In to leave a comment.