Wees bereid en Hy sal jou treë rig

Vir dié op soek na rigting, raadpleeg 2 Konings 2:1-18.

Sielskos

Credit: Getty Images/iStockphoto

Vir dié op soek na rigting, raadpleeg 2 Konings 2:1-18.

In Henry Kissinger se boek The Whitehouse Years word vertel van ’n Harvard-professor wat vir sy studente ’n taak gegee het. Toe die take ná inhandiging aan die studente teruggegee word, vind een spesifieke student dat dié opmerking op sy taak geskryf is: “Is dit die beste wat jy kan doen?”

Die student het gedink dat dit nie die beste was wat hy kon doen nie, en hy het die taak oorgedoen.

Die professor het die hersiene taak teruggegee, met dieselfde opmerking, en die student is weer huis toe om dit te verbeter. Dit het tien keer gebeur, totdat die student gesê het dit is nou die beste wat hy kon doen.

Die professor sê toe: “Dit is reg so. As dit nóú jou beste is, sal ek dit uiteindelik lees.”

Die predikant en skrywer Phillips Brooks het gesê: “Moenie vir ’n eenvoudiger lewe bid nie; bid om sterker mense te wees. Moenie vir take bid wat gelyk aan jou vermoëns is nie. Bid vir vermoëns wat by die standaard van jou take sal uitkom. Dan sal die aflê van jou take nie wonderwerke wees nie, maar jy sal ’n wonderwerk wees.”

Een van die gevaarlike siektes in die geloof is iets wat iemand “toeskoueritis” genoem het. Mense is bang om betrokke te raak, want hulle is bang dat hulle foute gaan maak of ’n mislukking sal wees.

Die Here vra jou bereidheid. Gaan maak ’n verskil in iemand se lewe. Gaan doen dit net.


  • Müller is leraar aan die NG Moedergemeente Kroonstad.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.