Vermorsing by die watersuiweringsaanleg van die Dihlabeng-munisipaliteit in Bethlehem, bykomend tot die gevolge van verskeie waterlekplekke in die dorp, laat inwoners met groot kommer.
Lieb Liebenberg, ‘n VF Plus-raadslid in Dihlabeng, sê die munisipaliteit moet dringend ondersoek instel ná al die watervermorsing by die suiweringsaanleg.
“So gaan skoon drinkwater tans verlore in ‘n kritieke tydperk van waterbeperkings weens die instandhoudingswerk aan die oordrag- en afleweringstonnels van die Lesotho-Hoogland-waterprojek, wat van 1 Oktober tot 31 Maart volgende jaar strek,” Liebenberg.
Jane Twala, burgemeesterskomiteelid van infrastruktuur, beweer dat dit fonteinwater is wat wegvloei, maar Liebenberg sê die VF Plus sal daarop aandring dat die munisipaliteit se infrastruktuurkomitee die saak deeglik ondersoek.
Dorpe in Dihlabeng is onder baie druk te midde van die instandhoudingwerk aan die Lesotho-Hoogland-waterprojek, en waterlekplekke en instandhoudingswerk wat nie deur die munisipaliteit gedoen word nie vererger die situasie.
“Dit is die plig van die munispaliteit om alles in sy vermoë te doen om toe te sien dat watertekorte nie in hierdie tydperk inwoners se krane laat leeg loop nie,” sê Liebenberg.