Waterkrisis dreig hier

’n Waterkrisis staar weer inwoners van Bethlehem en omgewing in die gesig nadat een van die pompe onklaar geraak het.


’n Waterkrisis staar weer inwoners van Bethlehem en omgewing in die gesig nadat een van die pompe wat water uit die Sol Plaatje-dam na die suiweringsaanleg pomp, onklaar geraak het. Boonop word die probleem nou deur die voortslepende vlak 4-beurtkrag vererger.

Tshediso Maitse, woordvoerder van die Dihlabeng-munispaliteit, sê die pomp is intussen herstel, maar weens beurtkrag funksioneer die waterstelsel nog nie normaal nie. Die munisipaliteit moes dus waterbeperkings instel om genoeg water te suiwer wat na die opgaardamme gepomp kan word. Beperkings is van 18:00 tot 06:00 van krag en sal tot verdere kennisgewing geld.

Volgens Maitse sal die situasie slegs verbeter as die vlak 4-beurtkrag opgehef word.

Ondernemings en inwoners van Bethlehem, Paul Roux en Rosendal word geraak.

“Verlede jaar het die Dihlabeng-munisipaliteit belowe om kragopwekkers by die Sol Plaatje-dam, ook bekend as die Saulspoortdam, beskikbaar te stel sodat die watertoevoer na dorpe nie deur beurtkrag belemmer sal word nie,” sê Isoldé Laesecke, ’n onafhanklike raadslid in Dihlabeng.

Sy sê die kwessie is weens ’n gebrek aan gereelde raadsvergaderings nog nie weer bespreek nie.

“Slegs spesiale vergaderings is gehou, waarop die raad op een punt fokus. Volgens wet moet raadsvergaderings minstens een keer per kwartaal plaasvind.”

Daar heers groot kommer omdat die munisipaliteit sedert 14 Junie nie ’n finansiële bestuurder het nie, en hieroor is ook nog nie vergader nie.

“Die onderlinge struweling tussen die twee faksies van die regerende party kniehalter besluitneming en veroorsaak chaos in Dihlabeng,” sê Laesecke.

Sy het Maandag (27/06) as onafhanklike raadslid ’n dringende raadsvergadering aangevra en wag op terugvoering van die munisipaliteit.

Inwoners word gemaan om water spaar­samig te gebruik sodat die opgaardamme gevul kan word.

You need to be Logged In to leave a comment.