Waterbeperkings geld in Oos-Vrystaat

Die Dihlabeng-munisipaliteit het waterbeperkings vir Bethlehem en omgewing ingestel.


Die Dihlabeng-munisipaliteit het waterbeperkings vir Bethlehem en omgewing ingestel.

In ’n kennisgewing wat op Donderdag 11 Julie deur die munisipaliteit uitgestuur is, word inwoners gemaan om water spaarsamig te gebruik. Hierin word ook bevestig dat waterbeperkings daagliks van 21:00 tot 06:00 geld, tot verdere kennisgewing.

Die reëling sal ook ’n invloed op die watertoevoer na die dorpe Paul Roux en Rosendal hê.

Die beperkings is ingestel weens herstelwerk aan die pompe by die Saulspoort-waterppompstasie, wat in hierdie stadium opgeknap word.

Die kontrakteur moet die ou pompe met nuwes vervang, en na verwagting behoort die opknapping teen einde Julie voltooi te wees.

Die pompstasie werk in die tussentyd met een pomp, wat 80% van die kapasiteit aan die watersuiweringsaanleg lewer.

Die verwagting is glo dat die beplande beskikbare watertoevoer voldoende sal wees omdat dit winter is.

Die reservoirvlakke het egter gedaal, wat daartoe gelei het dat sommige hoogliggende gebiede nie watertoevoer het nie.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.