Water eis ’n lewe

Vloedwater en oorstromings weens swaar reën in Kroonstad het ’n lewe geëis en groot skade aangerig.


Vloedwater en oorstromings weens swaar reën in Kroonstad het ’n lewe geëis en groot skade aangerig.

Die 50-jarige Motaung Mokemane, ’n werker van die Moqhaka-munisipaliteit, het verdrink toe sy motor op Sondag 7 April deur vloedwater in Maokeng meegesleur is. Mokemane het ’n brug oorgesteek toe die motor in die water beland het. Sy liggaam is Maandagoggend gevind.

Chaos het Sondagmiddag in Kroonstad uitgebreek toe verskeie hoofroetes en paaie deur ontwrigtende reënwater oorspoel is. Huise in laagliggende dele moes ontruim word, en sake­ondernemings veral in die industriële gebied het skade gely. In woonbuurte is bome omgewaai en paaie weggespoel.

Dika Kheswa, woordvoerder vir die munisipaliteit, het Sondag omstreeks 20:44 aan VrystaatKroon gesê dat ’n taakspan Maandag sou vergader om die skade wat deur die vloedwater aangerig is te bepaal. Dit het Maandagoggend nog gereën.

Volgens die rampbestuur se voorlopige bevinding het sowat 80 huise skade gely, het ’n motor in die slag geble en is een inwoner dood. ’n Volledige verslag word saamgesel.

Reënwater het verskeie huise in Kroonstad, veral in laagliggende gebiede, Sondag oorstroom. Hier skade by ’n huis in Eksteenstraat sigbaar.Foto’s: Verskaf

Sondag om 21:00 was die N1 steeds vir verkeer gesluit, en die pad was eers Maandag weer volledig in gebruik.

Op Kroonstadse WhatsApp-groepe is melding gemaak van ’n sinkgat wat besig was om in McLaglenweg in te val, en dele van die dorp het geen elektrisiteitstoevoer gehad nie. Maandag het verskeie woonbuurte en sakeondernemings steeds elektrisiteitstoevoer- en watervoorsieningsprobleme ondervind.

Trio Primêr het Maandagoggend vroeg ’n kennisgewing uitgestuur dat die skool vir die dag gesluit sou wees.

Spaski Geldenhuis, Marelize Boeije en Linda Louwrens, DA-raadslede in die Moqhaka-munisipaliteit, het Sondag tot laat deur middel van hul onderskeie WhatApp-groepe klagtes hanteer en terugvoering aan benoude inwoners gegee. Die plaaslike owerhede en die Kroonstad-buurtwag het ingespring om mense in nood te hulp te snel.

“Die water het soos ’n rivier voor ons huis verbygevloei, en in amper drie uur het ons 180 mm reën gemeet,” sê Bobby en Lulu de Kock, inwoners van Smutsstraat, Presidentia.

Len Smith, wat sedert 1991 Kroonstad se reënval maandeliks dokumenteer, sê hy het Sondag sowat 145 mm reën gemeet.

Hierna het wel nog baie reën geval.

“Die vloede het weer die vergrootglas geplaas op die infrastruktuur van Kroonstad wat nie in stand gehou word nie. Die massas water het baie skade aan die infrastruktuur aangerig, en as volhoubare instandhouding gedoen was, was dit nie nou so ’n probleem nie,” meen Lousanne van Heerden, VF Plus-raadslid in die Moqhaka Munisipaliteit.

Kheswa het bevesig dat Motloheloa Ellis Mokatsane, burgemeester van Moqhaka, en afgevaardigdes van die provinsie die rampgebiede Maandagoggend sou besoek.

Hulle was teen druktyd steeds besig om ’n geraamde skadebepaling te doen.

Verspoelings weens swaar reën Sondag in Kroonstad het groot skade aan geboue, paaie en infrastruktuur aangerig. In sekere dele is tot 180 mm reën in minder as drie uur gemeet. Hier ry ’n vragmotor sukkelend op die oorspoelde pad in die industriële gebied. Verskeie sakeondernemings het ook skade gely.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.