Wat is ons verwagtinge met Kersfees? Hier help die engelekoor wat sing (Lukas 2:14): Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het!
Hierdie vredeslied klink dalk na ’n ydele droom. Is dit nie net ’n glips van ’n engeletong nie?
Elke jaar sing ons dieselfde bekende Kersliedere. Sodra Kersfees verby is, gaan die ou trant voort. Die bankbalans bly rooi, slegte weer word steeds voorspel en struwelinge duur voort. Is Kersfees nie “overrated” nie?
Dit hang af wat ’n mens onder vrede verstaan. Die meeste mense sien vrede as ’n menslike produk; die oomblik waarop ons strydbyle begrawe. Die vrede waarvan die engele sing, het sekerlik hiermee te doen, maar het ’n algeheel ander konkrete inhoud wat deur die geboorte van die Jesus-kind beliggaam word. Hy is ons vrede. Vrede is iets wat alleen moontlik en blywend is in Hom.
Die laaste strofe beaam dit: “Vir die mense in wie Hy ’n welbehae het!” Dit beteken dat God sy vrede bring vir die mens vir wie Hy so oneindig lief is.
Dat God sondaarmense kan liefhê, was deur die eeue ’n vreemde gedagte. In die Latynse vertaling van die Bybel word die vers omgekeer: “Vrede op aarde vir die mense wat in God ’n welbehae het”. Dit klink meer logies. Dit is seker tog die mens wat God in die oog het; dié wat hulle darem tot God wend.
Nee, die welbehae waarvan die engele sing, het nie met ons toegeneëntheid te doen nie. Ruim en wyd klink dit op: “Want so lief het God die wêreld gehad . . .”