Wandel saam met God

Wanneer jy saam met iemand wandel, stap jy teen dieselfde spoed as jou metgesel; naby genoeg om te hoor wat hy of sy vir jou wil sê.


Wanneer jy saam met iemand wandel, stap jy teen dieselfde spoed as jou metgesel; naby genoeg om te hoor wat hy of sy vir jou wil sê.

Jy kan tog nie saam met iemand wandel en ’n sinvolle gesprek voer terwyl hy of sy doer ver vooruit stap en jy agterna drentel nie.

So moet ons verhouding met God ook wees.

Ons lees van Abraham, Noag en in die besonder van Henog wat met God gewandel het. Hebreërs 11 getuig van hoe Henog volgens die wil van God gewandel en geleef het.

Wanneer jy saam met God wandel, loop jy naby genoeg aan Hom om te hoor wat Hy vir jou sê. Dan kan jy leef soos Hy wil hê jy moet.

Ek weet nie of jy al daaraan gedink het nie, maar God hou daarvan om te wandel.

Ons lees in Genesis 3:8 hoe God in die paradys gewandel het wanneer die aandwind opkom.

In Levitikus 26:12 lees ons hoe die Here beloof dat Hy midde-in sy volk sal wandel. Wanneer God ’n mens word in Jesus, wandel Hy waar Hy wil wees.

Anders as ander konings of belangrike leiers wat gedra is, of op ’n strydwa of perd gery het, het Jesus gestap waar Hy wou wees. Sodoende kon Hy tyd deurbring met die mense saam met wie Hy gewandel het.

Vandag nog is dit sy uitnodiging aan ons. Soms is ons egter so besig dat ons eenvoudig verby die Here hardloop.

Sy spoed is wandelspoed – die spoed waarteen sinvolle gesprekke kan gebeur; die een duidelik kan hoor wat die ander sê.

Maak moeite om elke dag saam met God te wandel.

  • Weideman is leraar aan die NG kerk Kroonheuwel-Noord.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.