Ek onthou as kind voor ’n seevakansie hoe ons nie daarvoor kon wag nie. Ek onthou ook altyd die teleurstelling wanneer dit verby was.
Die afwagting het altyd langer as die gebeurtenis geduur. Dit is soos Dawid se gedagtes in Psalm 131. Dit is amper of Dawid vir die Here sê dat die tye van opwinding, wat kom en gaan, niksseggend is.
In vers 1 maak hy hom nie besorgd oor groot dinge nie.
Hy los nie sy hart in die wêreld om tydelike genot te verkry nie. In vers 2 lees ons dit is wat selfverheffing en hoogmoed beteken.
Dit is tydelike dinge waaraan mense hul hart vasmaak. Die dinge van die wêreld is nie blywend nie.
Daarom die oproep in vers drie om op die Here te wag. Hierdie woord “wag” in die Hebreeus (“jageil”) behels meer as net om te wag. Dit beteken om vreugdevol te hoop op dit wat ewig duur.
Daarom die oproep om op God te hoop, want God is vir altyd.
Wanneer die woord in die Ou Testament 40 keer voorkom, verwys dit na waardes wat by God lê en daarom ewig duur.
Die woord se Griekse metgesel “agalliaoo,” in die Nuwe Testament, is altyd in die toekomstige tyd. Die tyd wat nog moet aanbreek en dan nooit sal ophou nie. Ons moet ons bepaal by dit wat altyd sal hou.
Raak opgewonde oor die regte dinge. Nie dinge van tydelike gewin nie, maar ewige dinge.
Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd. – Psalm 131:3
- Müller is leraar aan die NG moedergemeente Kroonstad.