Die Viljoenskroon AfriForum-tak het ‘n dringende versoek aan die departement van polisie, paaie en vervoer gerig oor die gebrek aan waarskuwingsborde op die gevaarlike R59-pad tussen Viljoenskroon en Bothaville.
In die skrywe wat hulle op Vrydag (10/02) aan die departement gerig het, het die organisasie die gevaar wat die R59 vir motoriste inhou verduidelik en dringend versoek dat daar waarskuwingsborde aangebring moet word.
Reën is die oorsaak van die oorstroming van die pad en motoriste is onbewus van die stuk pad wat onder water is.
“Dit is onaanvaarbaar dat daar geen waarskuwingsborde op hierdie uiters gevaarlike pad is nie. Mense kan hulle lewens verloor, iets wat ons organisasie ten alle koste wil vermy.
Indien die departement teen Vrydag (17/02) nog nie die waarskuwingsborde aangebring het, sal dit die Viljoenskroon-tak noodsaak om dit self te doen,” sê Alta Pretorius, distrikskoördineerder vir die Mooirivierstreek.