Ek het al menige aand met Google Maps gesit en in my gedagtes ’n nuwe lewe in ’n verre land beplan.
Daar is ’n sekere romantiek aan die idee van ’n Skandinawiese woonstel met ondervloerse verhitting, ’n klein kafee op die hoek waar ek in ’n onbekende taal met ’n aksent koffie bestel, en ’n openbare vervoerstelsel wat werk.
Die buiteland lyk so netjies en beplan – ’n plek waar dinge logies verloop, waar mense nie hul motor met ’n hangslot sluit nie en waar jy nie by ’n verkeerslig moet bid dat jy nie gekaap word nie.
Maar dan dink ek: Hoe verduidelik ek vir ’n Finse kassier wat ’n “lekker” ding is?
Hoe oorleef ek ’n plek waar mense nie weet wat ’n bakkie is of hoe om ’n lamstjoppie oor kole te braai nie?
Hoe lewe ek sonder ’n tannie wat my sommer net so aanvat en vra: “Nou wie is jou mense?”
Suid-Afrika is nie perfek nie. Ons politici maak ’n mens die josie in, en ’n slaggat in die pad leer jou hoe om ’n hindernisbaan te trotseer sonder om dit ooit te oefen.
Jy leer vinnig dat “ek is amper daar,” tussen vyf en vyftig minute kan beteken, en dat ’n naweek net reg begin met ’n braaivleis en ’n lag.
Maar tussen al hierdie dinge is daar ’n gemeenskap wat jy nie sommer in ’n Eerstewêreldland gaan kry nie.
Ons is mense wat ’n kar met ’n oop venster op straat sien staan en dadelik weet: “Daai ou is nie van hier nie.”
Ons is die nasie waar ’n ou tannie jou aanhou voer, al is jy reeds twee borde oor jou limiet.
Waar ons nie ’n afspraak nodig het om te kuier nie en waar ’n “Mag ek gou jou foonlaaier leen?” ’n liefdestaal is.
Ek weet ons het probleme. Goeie genade, ons het probleme.
Maar ons het ook ’n land waar mense ander groet; waar ’n verkeerslig se mislukking ’n spontane onderhandeling tussen vreemdelinge is; en waar ons, ten spyte van alles, bly lag.
Ek kies om te bly, nie omdat ek onnosel of naïef is nie, maar omdat ek weet dat ek vir niks ter wêreld my mense, my taal en my manier van lag wil verruil nie.
En dís hoekom ek my paspoort bêre en eerder nog ’n braaibroodjie maak.