Dit was seker vir die dissipels wonderlik om saam met Jesus op aarde te wees. Hy was hul rabbi, wat hul lewe vol vreugde gemaak het.
Toe Jesus dus aankondig dat Hy hulle gaan verlaat, was dit asof hul wêreld platgeslaan was. ’n Vreugdelose plek sonder hul geliefde Meester.
Tog sê Jesus in Johannes 14:16 en 17: “Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.”
Jesus het geweet dat die dissipels uitmekaar sou spat as hulle alleen was, daarom het Hy die Heilige Gees gestuur om in hulle te wees.
Net so is ons ook verlore sonder die Heilige Gees, want Hy is vir alle gelowiges uitgestort. Sonder Hom leef ons ’n lewe sonder kennis en rigting na ware lewe. Daarom is die Heilige Gees tot ons beskikking.
Onthou die naam wat Jesus die Heilige Gees gee: Gees van die waarheid. ’n Mens kan nie lewensvreugde buite die waarheid van Jesus hê nie. Wil jy, soos die dissipels, die teenwoordigheid van Jesus beleef en al die waarhede van ware lewe ken?
Die Heilige Gees leer ons wat Jesus kom leer het. Hy leer wat om te sê (Lukas 12:12), tree in wanneer ons bid (Romeine 8:26), help ons om die werke van God te doen (Handelinge 4:8), openbaar wat regtig saak maak (1 Johannes 5:6) en ondersoek alle dinge (1 Korintiërs 2:10).
Saam met Paulus in 1 Korintiërs 2:16 sê ons: Daar staan geskrywe: “Wie ken die gedagtes van die Here? Wie sal Hom raad gee?” Maar ons, ons het die Gees van Christus.
Els is ’n leraar aan die NG kkerk Kroonstad-Suid.