Waar dié rokie trek, is lugbesoedeling

Lugbesoedeling het inwoners van Mclachlanweg in Kroonstad warm onder die kraag.


Lugbesoedeling het inwoners van Mclachlanweg in Kroonstad warm onder die kraag.

Daagliks bevind inwoners hulself vasgevang onder ’n wolk van skadelike rook weens die bedrywighede by die plastiekherwinnings­aanleg naby die Loubserpark-sportterrein.

’n Ongerugsteunde huurkontrak is vermoedelik aan die eienaar van die aanleg toegestaan, sonder dat die vereiste dokumentasie en permitte om die onderneming te bedryf, verskaf is.

Die lug in die omgewing van die aanleg word besoedel weens plastiek wat hier verbrand word.

Die plaaslike brandweer het al ondersoek gaan ingestel, en dit het glo aan die lig gekom dat die bedrywighede by die aanleg sonder toepaslike lisensiëring en beheermaatreëls bestuur word.

Die DA het die huidige situasie by die plastiekherwinningsaanleg aan die betrokke regeringsdepartemente gekommunikeer met die oog daarop dat ’n dringende ondersoek gedoen sal word.

Die party het ook versoek dat die huurooreenkoms voorlopig herroep word totdat die onderneming aan die wetlike vereistes voldoen.

“Lede van die gemeenskap het ’n grondwetlike reg op ’n omgewing wat nie skadelik vir hul gesondheid en welstand is nie. Dit sluit die reg op skoon lug in,” sê Marelize Boeije, DA-raadslid in die Moqhaka-munisipaliteit.

Blootstelling aan lugbesoedeling beïnvloed benewens menslike gesondheid ook die grond- en waterstelsels en het ’n uitwerking op landbou-opbrengste.”

’n Formele brief is aan die Moqhaka-munisipaliteit gerig met die griewe wat by die omgewingsbestuursinspekteurs en die Groen Skerpioene ingedien is vir verdere ondersoek oor die herwinningsaanleg se bedrywighede.

You need to be Logged In to leave a comment.