Vullisterreine dop toets

Die stand van vullisterreine in Suid-Afrika is deur die gemeenskapsorganisasie AfriForum bepaal met behulp van ’n oudit wat by 189 vullisterreine oor die land heen uitgevoer is.


Die stand van vullisterreine in Suid-Afrika is deur die gemeenskapsorganisasie AfriForum bepaal met behulp van ’n oudit wat by 189 vullisterreine oor die land heen uitgevoer is.

Die Vrystaat het weer die swakste uit al die provinsies gevaar. Vir ’n sewende jaar agtereenvolgens het geen vullisterrein in dié provinsie die oudit geslaag nie.

Die Vrystaat en die Noord-Kaap is die twee wat die swakste gevaar het.

Dié jaarlikse oudit bepaal of vullisterreine aan die omgewings-, gesondheids- en veiligheidsvereistes vir verantwoordelike afvalbestuur voldoen. Om die oudit te kon slaag, moes ’n vullisterrein aan minstens 80% van die oudit-vereistes voldoen het. Die oorgrote meerderheid (85,8%) van vullisterreine in die land kon egter nie vanjaar se oudit slaag nie.

Altesaam 28 vullisterreine is besoek. Hiervan is 27 formeel geoudit, terwyl die terrein by Steynsrus te onveilig was om die ouditproses uit te voer.

Uit die 27 terreine wat geoudit is, het 15 aan 10% of minder van die vereistes voldoen.

Die organisasie sê die swak bestuur van munisipaliteite met betrekking tot hul stelsels vir afvalbestuur en die personeel wat hiervoor verantwoordelik is, is waar die probleem ontstaan het. Dit wil ook voorkom of geen stappe deur die munisipaliteite gedoen word om die tekortkominge aan te spreek nie.

Volgens Alta Pretorius, Christa Ikking en Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerders vir die Vrystaat, is dit duidelik dat die meeste vullisterreine in die Vrystaat onder wanbestuur gebuk gaan.

“Dit is ’n groot rede tot kommer, aangesien die betrokke munisipale amptenare nie deur die provinsiale of nasionale regering tot verantwoording geroep word vir hierdie wanbestuur nie.”

AfriForum beplan ’n vergadering met dr. Dion George, minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, om die vullisterreinouditverslag se bevindings te bespreek, asook om ’n formele ondersoek teen die Vrystaat se nie-nakomende munisipaliteite te versoek.

Die organisasie is van mening dat Suid-Afrikaners hul grondwetlike regte, soos die reg op ’n skoon en gesonde omgewing, deur die swak bestuur van vullisterreine ontsê word, daarom sal die departement dringend munisipaliteite tot verantwoording moet roep.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.