Die Vrystaat het die beste in die Na­sionale Senior Sertifikaat (NSS)-eksamen gevaar, en spog met ’n slaagsyfer van 85,1%.

Was dit nie vir die uitdagings weens die Covid-19-pandemie nie, glo die departement van basiese onderwys die matriekklas van 2020 sou die beste nóg sedert die aanvang van die NSS-eksamen gevaar het.

Die matriekklas van 2020 se slaagsyfer, wat leerlinge insluit wat bevorder is, is 76,2%.

Dit is ’n daling van 5,1 persentasiepunte teenoor 2019.

Die matriekgroep van 2019 se slaagsyfer was met 81,3% vir die eerste keer bokant die 80%-kerf.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het Maandag (22/02) die nasionale en provinsiale slaagsyfer bekend gemaak.

“Dit is jammer dat ons die 80%-plafon wat ons verlede jaar bereik het, gemis het. Tog waardeer ons die veerkragtigheid wat ons skoolgemeenskap getoon het teen so ’n verpletter­ende pandemie om ’n aanneemlike slaagsyfer te bereik,” sê sy.

“Ons is trots op die 2020-groep se deursettings­vermoë teenoor uitdagings waaraan ons onderwys­stelsel nog nooit bloot­gestel is nie.”

Meer as 1 miljoen leerlinge het verlede jaar die NSS-eksamen afgelê, wat dit die grootste groep nóg maak. Dit sluit heeltydse en deeltydse kandidate in.

’n Rekordgetal van 440 702 leerlinge het geslaag.

Die getal leerlinge met universiteitsvrystelling is 210 820, en 150 600 leerlinge kom vir ’n nagraadse diploma in aanmerking.

Volgens Motshekga het die onderwysstelsel stabiliteit begin bereik en dui die getal leerlinge wat universiteitsvrystelling gekry het op die gehalte van die slaagsyfer.

Sowat 65 500 van die kandidate wat die eksamen afgelê het, was leerlinge wat tot matriek bevorder is, waarvan 24 244 geslaag het.

Sonder die leerlinge wat bevorder is, is die 2020-slaagsyfer 81,2% – ’n daling van 0,1 persentasie­punte sedert 2019.

Meer mans- as vrouekandidate het die eksamen afgelê en geslaag, maar meer vroue-leerlinge het universiteitsvrystelling gekry en onderskeidings behaal.

Die matriekklas van 2020 het altesaam 177 435 onderskeidings behaal, met KwaZulu-Natal, Gauteng, die Wes-Kaap, die Oos-Kaap en Limpopo wat die meeste onderskeidings opgelewer het.

Hoewel daar kommer is oor twee vraestelle wat uitgelek is, het die raad vir gehalteversekering in algemene en verdere onderwys en opleiding (Umalusi) bevind dat daar geen sistemiese onreël­matighede was wat die algehele eksamen se geloof­waardigheid in die gedrang bring nie.

You need to be Logged In to leave a comment.