VS dop oudit as heel swakste

In ’n onlangse ouditverslag is bevind dat Vrystaatse munisipaliteite, in vergelyking met dié van ander provinsies, die swakste dienslewering bied. Die gebrek aan onlangse data van die staat om belangrike aanwysers te meet bemoeilik die situasie, sê d


In ’n onlangse ouditverslag is bevind dat Vrystaatse munisipaliteite, in vergelyking met dié van ander provinsies, die swakste dienslewering bied. Die gebrek aan onlangse data van die staat om belangrike aanwysers te meet bemoeilik die situasie, sê dr. Eugene Brink, bestuurder van AfriForum se sentrum vir plaaslikeregeringsake.

Soos in ander provinsies is aspekte soos die demografie, sosio-ekonomiese toestande, dienslewering en die bestuur van munisipaliteite gemeet. In die Vrystaat wissel die indrukspunt, wat uit 10 toegeken word, van 4 vir Dihlabeng, wat onder meer Bethlehem bedien, tot 0,5 vir Tokologo, gesetel in Boshof.

Brink sê die beskikbare data toon ’n onrusbarende prentjie van hierdie eens trotse provinsie. Waar AfriForum toetse doen het, is die drinkwater plek-plek van goeie gehalte, maar die peil van stortingsterreine en afvalwater is beroerd en toon agteruitgang.

Volgens Brink is daar groot wanverhoudings tussen die verskeie munisipaliteite se gehalte van dienslewering.

“In die Setsoto-munisipaliteit (Ficksburg en Senekal) het byvoorbeeld slegs sowat 15% van huishoudings toegang tot kraanwater in hul woning, teenoor sowat 65% in Metsimaholo (Sasolburg). Die syfer vir weeklikse vullisverwydering in Metsimaholo is 78,3% teenoor slegs 37% in Tokologo.”

Mangaung (Bloemfontein) word as die swakste metro in die land beskou.

Morné Mostert, AfriForum se bestuurder van plaaslikeregeringsake, sê geen regeringsvlak tree op soos die grondwet vereis nie.

“Dit is baie duidelik dat die staat nie die vermoë het om basiese dienste aan gemeenskappe te lewer nie. Die provinsie wys dat politieke bande en invloed beskerm word eerder as om aan grondwetlike bepalings uitvoering te gee. Terwyl die ANC dié beskerming geniet, sit gemeenskappe steeds sonder effektiewe, volhoubare dienslewering.”

You need to be Logged In to leave a comment.