Vrystaat se mense ál meer geknel

Dat Eskom drie plaaslike munisipaliteite in die streek dreig met onderbreking van kragtoevoer weens wanbetaling, is kommerwekkend.


Dat Eskom drie plaaslike munisipaliteite in die streek dreig met onderbreking van kragtoevoer weens wanbetaling, is kommerwekkend.

Sakeondernemings wat die dorpe in die Moqhaka-, Ngwathe- en Nketoana-munisipaliteit aan die gang hou, sal die swaarste geraak word indien die waarskuwing van Eskom bewaarheid word.

Die Nketoana-munisipaliteit, wat aan Lindley, Petrus Steyn en Reitz dienste lewer, het van Desember 2023 tot Desember 2024 slegs twee betalings aan Eskom gedoen.

In dieselfde tydperk het die Moqhaka-munisipaliteit, wat Kroonstad, Vijoenskroon en Steynsrus bedien, net agt betalings gedoen – en ook nie soos vooraf ooreengekom nie.

Dit is vir seker die inwoners en ondernemings wat die swaarste geraak gaan word.

Ekonomiese groei in die Vrystaat word deur wanbestuur en korrupsie versmoor, en dit is die mense wat daaronder ly en in armoede verval.

In die kwartaallikse verslag oor werkloosheid is aangedui dat sowat 25 000 meer mense in die provinsie werkloos is – die hoogste syfer van al nege die provinsies.

Die vraag is: Is daar genoeg steun en ondersteuning op nasionale vlak om die chaos in provinsies uit te sorteer?

Die Vrystaat trek swaar en word al hoe meer vervalle, wat mense met bitter min hoop laat – en die negatiwiteit kan nie tot ’n gesonde samelewing bydra nie.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.