‘n Skerp toename in die diefstal van saad op plase in die Vrystaat het sedert September begin kop uitsteek en Vrystaat Landbou (VL) het hul kommer hieroor uitgespreek. Foto: Verskaf

Groot kommer heers oor die toename in diefstal van saad op plase in die Vrystaat en die misdaad laat boere met hul hande in hul hare. 

In ‘n verklaring verlede week wat deur Vrystaat Landbou (VL) uitgereik is sê die organisasie dat hy bekommerd is oor die diefstal wat sedert September op plase in die Vrystaat begin kop uitsteek het.

Dr. Jane Buys, veiligheid- en risiko-analis van Vrystaat Landbou, sê Reitz, Ventersburg, Viljoenskroon en Wesselsbron is van die areas wat geteiken is.

“Miljoene rande se mielie- en sonneblomsaad is op plase gesteel en met voertuie na ander afsetgebiede vervoer. Die diefstal  gaan ’n enorme impak op boere se opbrengste asook op voedselsekuriteit hê,” sê Jakkals le Roux, voorsitter van VL se landelike veiligheidskomitee.

Boere word aangeraai om hul bergingsplek vir saad, kunsmis, gif, diesel en ander produkte met sekuriteitstegnologie soos ligte, kameras en alarms toe te rus. Sodat beweging, veral na-ure, vroegtydig opgemerk kan word.

Die organisasie versoek ook boere om geen grootskaalse landbouprodukte of implemente gedurende nagtelike ure op hul landerye te laat nie, omdat dit geleentheid vir opportunistiese kriminele gaan bied om misdaad te pleeg en ongesiens daarmee weg te kom.

“Die aanloop tot die feestyd het reeds begin en die feit dat boere besig is om hul lande te bewerk, laat die moontlikheid ontstaan dat dié soort misdaad kan toeneem. Boere word dus versoek om paraat te wees, om sodoende hul eiendom te beskerm en enige verdagte aktiwiteite by die polisie aan te meld,” sê Le Roux.

Die organisasie sê hulle sal die polisie versoek om daadwerklike ondersoek in te stel oor die insidente wat daarop dui dat die misdaad op ‘n georganiseerde wyse plaasvind.

Hulle beweer ook dat daar ‘n mark en afsetgebied vir die saad is en reken dat georganiseerde groeperinge en sindikate daarby betrokke is, sê dr. Buys. Die organisasie gaan ook landelike veiligheidskoördineerders aanmoedig om bewusmakingsveldtogte te hou.

You need to be Logged In to leave a comment.