Daar is groot opwinding in die lug oor die jaarlikse Clarens-kunstefees, wat vanjaar weer tussen 1 en 4 Mei plaasvind.
Feesgangers kan uitsien na ‘n propvol program met vermaak, inspirerende gesprekke oor die kunste en letterkunde, asook ‘n verskeidenheid interessante werksessies.
Een van Suid-Afrika se mees geliefde akteurs, Ian Roberts, gesels oor sy memoires Is dit jy?, en sal ook saam met sy bekende Radio Kalahari Orkes optree.
Clarens se eie Josh Mokoena keer terug na sy tuisdorp met ‘n jazz-vertoning, terwyl André Schwartz gehore bekoor met sy nuwe produksie Gesigte.
Die bekroonde musiekblyspel Vincent, met Daniel Anderson en begelei deur Paul Ferreira, bied ‘n ontroerende blik op Vincent van Gogh se lewe. Die fees bring ook hulde aan digter Breyten Breytenbach, met bydraes deur Laurinda Hofmeyr, Bibi Slippers en Koos van der Merwe.
Kaartjies vir Bruce Fordyce se boekbespreking Tales from the Road verkoop vinnig. Fordyce sal ook op Saterdag 3 Mei die Clarens Parkrun lei.
Op Sondagmiddag, 4 Mei, kan gaste aansit vir ‘n heerlike ete saam met die geliefde Frik de Jager, wat staaltjies deel oor sy kulinêre avonture van regoor die wêreld.
Die bekende skrywer Tony Park sal sy wenresep vir blitsverkopers deel en praat oor sy liefde vir die Suid-Afrikaanse natuur. Aktrise en skrywer Susan Coetzer gesels oor haar suksesvolle roman Haas en Harriët, wat steeds op die topverkoperlys pryk.
Vir dié wat belangstel in politiek en ekonomie, is daar insiggewende gesprekke met joernaliste soos Karyn Maughan, Pieter du Toit en TJ Strydom. Die bekende politieke ontleder Piet Croucamp sal as gesprekleier optree.
Plaaslike wetenskaplikes Gideon Groenewald en Rodney Moffet gaan saam met Paddy Gordon van die Golden Gate-Hoogland Nasionale Park gesels oor die streek se merkwaardige fossielskatte.
Sowat 40 visuele en beeldende kunstenaars sal hul werk op die dorpsplein uitstal. Kunstenaars soos Grace Kotze, Debbie Marx en Sinalo Ntuli se werke sal te sien wees.
Daar is ook kreatiewe werksessies vir diegene wat self wil inspring – Kara Schoeman sal belangstellendes leer teken, terwyl Melinda Ferguson besoekers help om hul eie lewensverhaal neer te pen.
Of jy nou lief is vir poësie, pottebakkery, skryf, skilder, konserte, kunsuitstallings, kookkuns, boeke of debatte – die Clarens-kunstefees bied iets vir elke smaak.
Vir die volledige program en kaartjies, besoek gerus https://www.clarensartsfestival.co.za of stuur ‘n e-pos na admin@clarensartsfestival.co.za.