Vrylopende varke eindelik op hok

Die trop vrylopende varke wat inwoners van Kroonstad tot raserny gedryf het, is gevang.

Vrylopende varke saai verwoesting in Viljoenskroon. Dit is onseker aan wie dié diere behoort.Foto: Verskaf

Credit: SYSTEM

Die trop vrylopende varke wat inwoners van Kroonstad tot raserny gedryf het, is gevang.

Raadslid Spaski Geldenhuis het Sondag (10/04) bevestig dat die varke op hok gehou word terwyl die eienaars opgespoor word.

’n Varksog en haar kleintjies het hulself geruime tyd in Suidrand, Kroonstad, tuisgemaak en vullissakke oopgeskeur op soek na kos.

Volgens Gabrie Grobler, inwoner van Kroonstad, het sy alles in haar vermoë gedoen om die varke te verjaag.

“Ons vermoed hulle kom van die hoewes hier agter Suidrand, maar ons kan dit nie bevestig nie,” het sy vroeër gesê.

“Benewens die feit dat hulle amok maak, hou dit vir ons as inwoners ’n gesondheidsrisiko in. Die varke wei in die riool wat vrylik deur ons woonbuurt vloei.”

Luidens munisipale wetgewing moet vrylopende diere na ’n skut geneem word totdat die regmatige eienaars opgespoor is.

Volgens Braam Visagie, raadslid van Kroonstad, is die skut wat Sentraal- en Noord-Vrystaat moet bedien in Virginia geleë.

“Dit beteken dat die diere op hok gehou moet word totdat die skutmeester beskikbaar is om die diere te kom verwyder.”

Jeanie Hattingh, voormalige raadslid, sê die skutmeester moet volgens wetgewing ’n kennisgewing by die plaaslike munisipaliteit, naaste polisiekantoor en by die skut self aanbring om die eienaar in kennis te stel. Indien die eienaar nie opgespoor word nie, moet ’n kennisgewing in die plaaslike koerant gepubliseer word.

In Viljoenskroon saai nog ’n trop vrylopende varke verwoesting en dolwe tuine om.

Volgens Visagie is niemand seker waar die varke vandaan kom of aan wie hulle behoort nie.


  • VrystaatKroon wag op terugvoering van die Moqhaka-munisipaliteit rakende die kwessie.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.