Vryheid voel na Afrika-reën

Vier sirkustiere van Argentinië wat sowat 15 jaar lank in ’n treinwa aangehou is, is inwoners van Suid-Afrika sedert hulle by die Lionsrock Big Cat Sanctuary naby Bethlehem gehuisves word.


Vier sirkustiere van Argentinië wat sowat 15 jaar lank in ’n treinwa aangehou is, is inwoners van Suid-Afrika sedert hulle by die Lionsrock Big Cat Sanctuary naby Bethlehem gehuisves word.

Hier sal hulle gereabiliteer word om stelselmatig die natuur en hul nuwe vryheid te leer ken.

Die tiere, wat nie aan die natuurlike habitat gewoond is nie, vind dit uitdagend om byvoorbeeld op ongelyke grond en gras te loop.

Reëndruppels het oor die naweek die eerste keer in die oop veld op die tiere geval – iets buite hul ervaring.

Die internasionale dierewelsyns­organisasie Four Paws, met behulp van veeartse en ’n span deskundiges, het die vier Argentynse tiere – Messi, Sandro, Mafalda en Gustavo – gered. Hul tuiste was ’n treinwa van skaars 75 m2 groot, wat in die Argentynse provinsie San Luis geparkeer was.

Dit was die eerste keer dat Four Paws diere uit Suid-Amerika red.

’n Reisende sirkus het in 2007 die twee ouer tiere, ’n mannetjie en wyfie, in ’n treinwa gelos en ’n plaaslike boer gevra om na hulle om te sien. Die twee jonger tiere is later daar in aanhouding gebore. Die sirkuseienaar het nooit teruggekeer nie.

Die vier se lang reis na Bethlehem het op 9 Maart begin, en hulle is Saterdag (12/03) veilig en ongedeerd in Suid-Afrika verwelkom.

“Die tiere is in ’n reabilitasiekamp by die Loinsrock-beskermingsgebied, om aan die omgewing en natuur blootgestel te word,” sê Daniel Born, woordvoerder van Four Paws.

“Sodra hulle vordering toon, sal hulle na ’n groter kamp verskuif word. Die reddingspan moniteer die diere om hul aanpasbaarheid te beoordeel en kon ’n opvallende rustigheid by die tiere opmerk.”

Born sê dat dit ’n lang proses sal verg vir die tiere om heeltemal in die nuwe omgewing aan te pas, maar dat hulle gemoniteer word om die proses te vergemaklik.

Dr. Amir Khalil, veearts en die leier van die reddingspan, het maande lank gewerk om ’n geskikte blyplek vir die diere te soek, toestemming by die onderskeie owerhede te kry en al die reëlings te tref.

You need to be Logged In to leave a comment.