Op ’n dag het ’n Turkse offisier en sy manskappe die huis van ’n Armeense gesin rot en kaal besteel.
Hy het ook die ouers doodgeskiet, die jonger dogters deur sy manne laat verkrag en self die oudste dogter verkrag. Die dogters is saam met die soldate weggevoer vir verdere “gebruik”, maar die oudste kon daarin slaag om te ontsnap.
Jare later, nadat sy haarself as verpleegsuster gekwalifiseer het, het sy in ’n hospitaal begin werk waar Turkse offisiere soms verpleeg is.
Een aand het sy die gesig van ’n offisier herken.
Hy was ernstig siek en sou volgens die dokters sterf indien hy nie genoegsame behandeling ontvang nie. Die dae het verbygegaan en hy het herstel.
Op ’n dag het die dokter saam met haar by die bed van die offisier gaan staan en vir hom verduidelik dat haar toegewyde sorg die rede is dat hy leef.
Die offisier het stip na haar gekyk en gesê: “Ons het iewers ontmoet, nè?”
Sy het sy geheue verfris.
Geskok het hy gevra hoekom sy hom nie doodgemaak het nie.
Haar antwoord was eenvoudig.
“Ek is ’n volgeling van Hom wat gesê het dat jy jou vyande lief moet hê en mekaar moet vergewe.”
Lees Matteus 5:44; 6:15.
- De Kock is leraar aan die NG kerk Bethlehem-Noord.