Dit is Vrouemaand, en Vrystaatkroon het ter viering hiervan met Bernette Erasmus van Bethlehem gesels oor haar rol as vrou in die samelewing.
Bernette het op 11 Augustus haar 44ste verjaarsdag gevier, so saam met die Vrouemaand-vieringe. Haar boodskap aan vroue vir hierdie Vrouemaand is, onthou om net jouself te wees, want daar is net een jy!
“Jy is uniek gemaak en daarom kan jy net jouself wees en jou uniekheid omarm. Gebruik jou eie talente om ’n verskil te maak en moet nooit huiwer om net jouself te wees nie.”
Bernette is ’n begaafde musiekonderwyser aan die Laerskool Truida Kestell in Bethlehem en sê dat sy haar nie een dag in die lewe sonder musiek kan voorstel nie. Volgens haar is musiek die stem van die siel, en musiek laat haar altyd goed voel.
“Ek het van kleintyd af altyd vir my ma, Jeannette Jacobsz, gesê ek gaan eendag die volgende Rina Hugo wees. Wel, ek het maar later in my lewe daardie droom laat vaar, en ek help nou graag kinders om hul musikale drome te verwesenlik.”
Dit is haar passie vir kinders en haar begeerte om haar musikale kennis met hulle te deel, wat haar lewe vervul. Sy bied klavier- en kitaarlesse aan, rig die koor af en geniet dit om die kinders vir die sangfees voor te berei.
“Ons moet onthou dat kinders ook slegte dae, hartseer en trauma beleef en dat dit ons plig is om hulle dan te ondersteun. Ons moet hulle leer om die goed en sleg met ’n glimlag aan te pak.”
Dit is vir haar uiters belangrik om agter te kom hoe sy mense kan help, en om positiwiteit aan ander oor te dra, veral in tye dat mense maklik teneergedruk voel.
“Ek glo geluk is nie ’n toeval nie, maar ’n doelbewuste keuse. Onthou dat vandag net eenkeer gebeur, so maak elke dag die moeite werd – moet nooit iets as vanselfsprekend aanvaar nie. As dié boodskap net een mens se lewe kan raak, sal ek tevrede wees.”
Sy beskryf haarself as iemand wat maklik huil, selfs al maak daar net ’n nuwe Pick n Pay-winkel oop, en sy help mense graag sonder om eers te oorweeg wat dit vir haar sou kon inhou.
“My vriendinne sê ek het ’n rein hart wat almal altyd gelukkig wil hou.”
Bernette is entoesiasties oor die lewe en voel op haar gelukkigste wanneer sy die kans gegun word om ’n uitdagende musiekproduksie aan te pak. Sy is ’n talentvolle sanger en is deel van die Counterpoint-vrouesanggroep in Bethlehem. Wanneer sy tyd het om te ontspan, kyk sy graag ’n reeks op Netflix, of geniet dit om saam met familie en vriende te braai en te kuier.
Bernette is gebore en getoë in Bethlehem, en het haar skoolloopbaan aan die Hoërskool Witteberg voltooi. Sy het haar daarna aan haar studies toegewy en as musiekonderwyser gekwalifiseer.
Bernette is getroud met haar skoolliefde, Stefan Erasmus, en die egpaar het twee kinders: Jeanri (8) en Dian (6).