‘n Hartverskeurende toneel het buite Kroonstad afgespeel toe ‘n jong vlieëner met ‘n spuitvliegtuig by Bossiespruit op die gronde van die Suid-Afrikaanse weermag buite Kroonstad neergestort en verongeluk het.
Die 22-jarige Corlia Strydom, van die plaas Poortjie in die Migdol-distrik Noordwes, het slegs vyf ure vliegtyd gekort om as die eerste vrou in die land haar as lugbespuitingsvlieër te kwalifiseer.
Op Woendagoggend omstreeks 06:00 het Strydom besluit om vir ‘n uur te vlieg as deel van haar opleiding wat sy Saterdag, 14 Oktober sou voltooi.
Fanie Keyser, eienaar van die Fantine Air vliegskool in Kroonstad en Kaapstad, wat Strydom se vlieginstrukteur is sê, hy en nog ‘n vlieënier het Strydom dopgehou terwyl sy gevlieg het. Hulle het gesien hoe die vliegtuig agter die hangar in beweeg en ‘n harde slag gehoor en rook gesien.
“Die ongeluk het omstreeks 06:15 plaasgevind en die owerhede is onmiddelik ontbied. Strydom is op die toneel doodverklaar en die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid is tans besig met die ondersoek oor die voorval. Ons wag op hulle verslag,” sê Keyser.
Strydom, beskik reeds oor ‘n kommersiële vlieglisensie en het meer as 300 vlugure op die boek. Sy het in 2021 haar vlieglesse by Kayser begin soos haar broer Herlius Strydom.
Volgens polisiewoordvoerder sersant Josephine Rani, het die ongeluk ongeveer 1 km vanaf die Kroonstad lughawe plaasgevind. Strydom se liggaam is na Bloemfontein geneem vir ‘n geregtelike doodsondersoek.
Sy word onder andere deur haar pa Hernus en broer Herlius Strydom oorleef. Haar ma is in 2018 in ‘n motorongeluk oorlede.